Nuusbrief 10 in 2015

Verlede maand het ek vertel hoe ons ego’s (ons gewonde of aangeleerde of gefabriseerde self) in die pad kan kom van ons ware self. Ons ego’s lê ons aan bande en weerhou ons daarvan om werklik dié mense te wees wat ons bestem is om te wees. Ons word maklik vasgevang in ‘n lewenspatroon waarin jy probeer om die ego of “valse self” in stand te hou. En so mis jy uit op die lewe waartoe Jesus jou (reeds op aarde) wil bevry en in staat stel. (Lees gerus weer laasmaand se post op my blog.)

Maar ek wil die saak nou bietjie vanuit ‘n ander hoek benader: hoe die “klein self” of “verkleinde self” jou terughou om voluit “ja” te sê vir lewe en die seisoen van die lewe waarin jy nou is.

In ‘n coaching gesprek vertel ‘n dinamiese jongman vir my hoe hy by die werk met ‘n groot kontrak aan die diepkant  ingegooi het. Dit het hom gepas want hy hou van uitdagings. Eintlik het hy die kontrak tegnies baie goed gehanteer, maar weens ‘n gebrek aan ondervinding en te min ondersteuning van maatskappy-leierskap het die kontrak op ‘n verlies van miljoene rande uitgeloop. Die jongman het baie vrot gevoel, en het geleer om daarmee te “cope” deur harder te werk en homself te probeer bewys. Maar sy selfvertroue het ‘n groot knou gekry en die drome en passie brand bietjie flouer as wat dit was.

In ‘n ander geval hoor ek by ‘n middeljarige man met twee hoogaangeskrewe regsgrade hoe hy nou ‘n werk doen, wat ver benede sy vermoëns is. Hy voel gemaklik en tog vasgevang, en weet nie mooi watter kant toe nie. En hy sukkel om te glo dat hy tot baie meer geroep en in staat is. Eintlik sukkel hy om homself te bemagtig.

‘n Hoogs intelligente man in sy sewentigs het reeds in sy laat-vyftigs afgetree. Voor sy aftrede het hy in ‘n top-pos by ‘n bekende internasionale maatskappy gewerk en is gereeld oorsee gestuur. Maar ten spyte van goeie gesondheid en ‘n skerp verstand lê sy talente onbenut vir die kerk en samelewing. Hy het begin dink dat hy met sy vermoëns irrelevant is vir die wêreld om hom. Dalk moet hy maar vrede maak daarmee en homself “soos ‘n oumens” gedra?

In ‘n ander sessie noem die persoon aan my “ek is homoseksueel”. Ek het hom probeer reghelp: “Jy is nie homoseksueel nie. Jou seksuele oriëntasie is nie wie jy is nie – dis slegs een fasset van wie jy is, maar jy is soveel meer…”.

In al hierdie gevalle is die diepste vraag: wat is jou “prentjie” van jouself? Of anders gestel: kan jy jouself sien deur die oë van die Een wat jou gemaak het? In hoe ‘n mate wyk jou huidige prentjie af van God se prentjie en roeping vir jou?

Ek wil nou nie te tegnies raak nie, maarons moet oppas hoe ons oor onsself praat. Mense sê maklik dinge soos “Ek is maar net ‘n sondaarmens”. Of: “ek is (net) ‘n kind/huisvrou/ou mens/werker/’n gewone landsburger/prokureur”. Of selfs  “ek is siek, vet, ‘n depressielyer, ‘n alleenloper, geskei”. Daarmee perk jy jouself in, fokus jy jou identiteit op een eienskap van jou menswees, en ontmagtig jy jouself deur so jouself van ander fassette van jou menswees af te sluit. Jy is ook nie jou mislukkings of terugslae nie – dit is als deel van jou groei- en vormingsproses.

God het nie sonder rede gesê: “Ek is wie Ek is” – met ander woorde ondefinieerbaar, nie vas te vang in een definisie of eienskap nie. En ek en jy is mos gemaak na sy beeld. Ons is dus “klein ek issies” soos Dr Louis Kroon, die psigiater wat so 2 jaar gelede oorlede is, gesê het. Want ons aard na God.

En as Christen is jy beslis nie meer “’n sondaarmens” nie, maar verloste kind van die allerhoogste God met al die skakerings en moontlikhede wat daarmee saamgaan! Al doen jy nog sonde en maak jy foute, is dit nie jou identiteit nie. Jy is ook beelddraer van God, geskep om te heers en ambassadeur van God se koninkryk te wees! Dit maak ons aan die een kant nederig en beskeie, en aan die ander kant gee dit ons krag, hoop en moed om met oorgawe te lewe.

Mag jy met nuwe oë na God, jouself en die lewe kyk… En voluit lewe tot jy die laaste asem hier op aarde uitblaas en oorgaan na die volgende fase van jou lewe!

Hiermee groet ek eers – tot DV volgende maand.

Share