Nuusbrief 6 in 2014

Sjoe, dis bibber-koud hier met sneeu op die berge en nat, reënerige dae. Party van ons voel sommer misrabel en depro as die weer so lyk. Hulle noem dit seisoenale depressie. As jy dit het, moet jy dalk ernstig kyk na ‘nstrategie om dit te bestuur, want dit kan nogal ‘n mens se vlak van energie en vreugde ondermyn. Of miskien is daar iemand wat jy ken, wat daarmee sukkel?

Soms word ek vinnig uit my depro-bui geskok as ek ander mense om my se swaar en uitdagings sien, soos mense wat half ses in die oggend papnat reën op pad werk toe. Sommer so katspoegie (5 km) van ons af is onwettige plakkers, insluitend vrouens, babas en skoolkinders, op ‘n nat, koue wintersdag hardhandig uit hulle huise ontset. Die plakkershuisies is platgeslaan en verwyder en oor die 800 mense was skielik haweloos. Dis in sulke tye wat ek besef hoe bevoorreg ek is om in ‘n huis te bly, warm kos te mag eet, met ‘n kar werk toe te kan ry… en so baie ander dinge te mag geniet. Mag ons ons seëninge tel en help waar ons kan. Meeste van ons wat hier lees, is ver bo begemiddeld bevoorreg en begenadig met fenominale vermoëns om ‘n verskil te kan maak op soveel fronte (selfs daar waar min mense dit sal sien). So ‘n bietjie liefde en omgee gaan soms baie ver. En dit verryk jou lewe!

Die afgelope week het ek by ‘n maatskappy ‘n sessie gelei oor hoe om “Aangeleerde Hulpeloosheid” (Learned Helplessness) teen te werk. Aangeleerde Hulpeloosheid (AH), of die “ek kan nie virus”, vat pos by jou as jy oorweldig of lamgelê word deur dinge wat jy voel buite jou beheer is – bv. ‘n werksituasie wat jou lamlê, ‘n moeilike huwelik wat nie beter word nie, of slegte gene wat jy oorgeërf het. In my sessie het ek basies die volgende dinge voorgestel om AH teen te werk:

  1. Kry vir jou ‘n positiewe ondersteuningsnetwerk of groep. Kry vir jou mense met wie jy oor die sitausie kan praat, mense wat jou “accountable” kan hou en opbouend reguit dinge vir jou sal sê. Baie keer as ons hoor ander het dieselfde “battles”, help dit ons en kan ons by mekaar leer. By die werk kan dit byvoorbeeld die span mense wees saam met wie jy werk.
  2. Onderskei, volgens Stephen Covey, tussen jou “circle of concern” en jou “circle of influence”. Jou “circle of concern” is al die baie dinge waaroor jy geen beheer het nie, soos die weer, die ekonomie, wêreldpolitiek, jou gene en jou ouderdom – skryf neer wat dit in die bepaalde situasie is, dink so 5-10 minute per dag daaroor. Maar skuif jou fokus dan na die volgende sirkel, die “circle of influence”: waaroor het jy beheer, waaraan kan jy iets doen? Skryf dit neer en fokus doelbewus jou aandag en tyd daarop.
  3. Verander jou Selfspraak van selfondermynend na selfbemagtigend. Ons is geneig om dinge wat met ons gebeur persoonlik te vat (dis al weer ek wat die kliënt verkeerd opgevryf het), dit te veralgemeen (ek is sleg met kliënte, eintlik sleg met mense…) en dit te sien as permanent (dit gaan maar altyd so en sal maar altyd so wees). Verander jou denke en jou selfspraak (nee, dis net in hierdie geval só, en gewoonlik gaan dit goed met my verhoudinge, en ek is besig om te leer om dit nog beter te hanteer).
  4. Fokus primêr op die aksies wat sukses dryf, nie die “telbord” nie. Soms kan ons só op die eindresultaat fokus dat ons moedeloos word en nie doen wat nodig is om die telbord te verander nie. Dit is beter om jou fokus te hou op die aksies wat die sukses sal dryf. Die span op die veld moet immers fokus op die aksies/bewegings in die wedstryd wat die telling op die bord sal sit. “If you want something different, do something different”.

Optimisme kan jou baie ver vat. In plaas van ‘n houding van “dis onmoontlik” kan jy jou gesindheid verander na “ek sal ‘n manier kry”. Soos die ou wat in midde-Afrika kom en terugrapporteer aan sy skoen-maatskappy “daar is nie ‘n mark nie – die mense dra nie skoene nie”. Sy kollega het dit anders gesien: “daar is ‘n groot mark – omtrent niemand het skoene nie”. Moeilike situasies, veranderinge en selfs terugslae bring dikwels groot geleenthede.

Kom ons bid oor die dinge wat buite ons beheer is, gee dit in die Here se hande oor, en vertrou Hom verder. En dan loop ons in vertroue op die Here die pad en doen dit wat positief en opbouend en oplossing-gerig is.

Ons land met sy politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings het mense wat anders kan dink, dringend nodig. Die mense om jou kan geweldig baat vind as jy jou kop oop maak en deur God se kreatiewe oë na dinge om jou kyk. Mag jy die lewe leef waarvoor jy gemaak is, en impak maak daar waar jy is!

Share