Met al die baie vakansiedae, insluitend werkersdag en die verkiesingsdag agter ons, is dit nou hef aan voor vir meeste van ons. Die werkgewers is bly want nou kan produksie weer mooi op dreef kom – dít na vyf onderbroke weke waarin baie mense (insluitend base en bestuurders) met ‘n onderliggende vakansieluim gewerk het. Ek moes myself weer hard daaraan herinner dat werk ‘n voorreg is en dat ons dit in die eerste plek vir die Here doen, nie vir mense (base of kliënte) óf vir geld nie.
Werk bring vir ons ook ‘n ruimte waarbinne ons direk en indirek ‘n verskil kan maak, al is dit vandag net om ‘n glimlag of bietjie omgee daar te bring. Om volgens jou unieke menswees en talente te dien, gee betekenis en vervulling.
Maar werk is deesdae vir baie mense nogal stresvol. Hierdie week fasiliteer ek ‘n werkwinkel oor Stres en Tydbestuur. Een van die lesse is: stres is goed, maar dit moet doelbewus bestuur word. Soms moet ons net so bietjie onsself daaroor assesseer en die nodige aanpassings maak. Mei-maand was geweldig besig en uitdagend sover en ek het heelwat oggende om 2:00 of 3:00 wakker geword en gesukkel om daarna my kop rustig te hou en weer (goed) te slaap. Stres wat jy nie doelbewus bestuur nie, kan omsit in lelike dinge soos angs en fisiese nagevolge. Dit laat ons vinniger verouder, gee jou plooie en ander baie slegter dinge, en steel ons vreugde…
Vroeër die maand het ek die voorreg gehad om ‘n paartjie in die huwelik te bevestig – vriende van ons dogter Marli. (Na my uittrede as voltydse predikant het ek dit reggekry om my status as huweliksbevestiger te behou.) Deesdae probeer ek anders kommunikeer by sulke geleenthede – minder prekerig, meer gemaklik en direk. En ek loop met die mense ‘n paadjie voor en na die tyd. Die boodskap (uit Filipense 1 en 2) was gerig op almal teenwoordig. Spieël gerus jouself daarin:
- As jy jou huwelik goed wil laat werk, sorg dat jou verhouding met die Here lewendig en persoonlik bly, en aanhou groei (1:6). Hy is die Bron van lewe en liefde, en die Een wat die huwelik uitgedink het.
- Liefde is iets wat moet aanhou groei in begrip (insig in die ander een se menswees) en fyn aanvoeling (geoefende sensitiwiteit vir die ander een se behoeftes) sodat jy kan onderskei wat regtig belangrik is en wat nie. (1:9-11)
- Eenheid is die doel en dit kom as ons bereid is om ons eie belange te kruisig ter wille van die ander een. Soos ek al geskryf het: “die ek moet vrek”. (2:2-5).
Agterna het ‘n hele paar mense informeel met my kom gesels. Dit is wonderlik om te sien dat baie jongmense regtig rigting soek. Hulle lyk so “competent” en “street-wise”, maar het so ‘n groot behoefte aan die ouer geslag om belang te stel en mentorskap te bied. Ons was laataand op pad deur toe, toe ‘n jongman my voorkeer. “Ek is op die verkeerde pad oom, ek kan nie so aangaan nie. Wat moet ek doen?” Uit sy praat kon ek die pyn en stryd hoor. Die “bottomline” was dat hy moet kies tussen (1) sy eie pad wat duidelik nie meer goed vir hom werk nie, want dis vol dom besluite en strewes, afdraaipaaie en pyn; óf (2) God se pad. Die Spreukedigter sê “Daar is ‘n pad wat vir jou reg lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood”.
Ons het ooreengekom dat hy my sal kom sien. Wat ‘n voorreg! Ek wens ek het tyd gehad vir baie meer sulke ouens, maar miskien kan jy ook so paar ouens ‘n oor gee. Net ‘n waarskuwing: jongmense soek nie kits- en oppervlakkige oplossings nie. Raad soos “gee jou hart vir Jesus en als sal regkom”, gaan nie goed af nie. Hulle wil gehoor word, vrae kan vra en saam met jou die pad soek en vind. Die proses vind plaas in ‘n verhouding van omgee en respek. En wees bereid om self ook gechallenge te word.
Met hierdie briefie groet ek eers. Mag ons elkeen die verskil maak waar ons is. Sterkte vir jou uitdagings in al die sfere van jou lewe!