Nuusbrief 4 in 2014

Ek hoop jy kan iewers in hierdie maand ‘n langnaweek neem om so bietjie te rus of te rits!

Aprilmaand is baie keer vir ons wat in die besigheidswêreld ons brood en botter verdien, ‘n moeilike maand. Dit het soveel vakansiedae dat dit dikwels die momentum ernstig versteur. Aan die ander kant dwing dit ons om so bietjie rustiger te wees en perspektief te behou. In die ou Israel is fees- en rusdae ingebou in die ritme van die jaar sodat mense nie sou vergeet waaroor die lewe regtig gaan nie. Party van die rustye was gekoppel aan die tyd van die jaar (bv. die oesfees) en ander aan hulle geskiedenis (soos die loofhuttefees) om hulle die lewe en God se betrokkenheid te laat vier.

Aprilmaand is ook tyd vir Paasfees. In die Ou Testament word dit die Peshah genoem wat in Engels mooi met Pass-over vertaal word. Die doodsengel het mos verby die huise gegaan as die bloed van die paaslam aan die deurkosyn was; in die ander huise is die oudste kind dood. Ons Paaslam is Jesus, wat met sy verskriklike lyding aan die kruis meegebring het dat die ewige dood(straf) vir ons sonde, by ons verbygaan. Dis ‘n tyd om te onthou en fees te vier: daar is ‘n prys vir my betaal aan die kruis.

Maar Paasfees laat ons ook dink aan lyding. En wat ‘n troos dat Jesus ons pyn kan verstaan en daarmee simpatie het!

Die laaste tyd het ek by baie mense hulle pyn gesien. Toe ek Maandagoggend by ‘n personeel-motiveringsessie opdaag, moes ek my hele praatjie impromptu verander omdat een van hulle bestuurders Sondag oorlede is, een van hulle se skoonma afgesterf het en ‘n hele paar met ernstige uitdagings sit – daar was trane, verslaenheid en skok. Daarom was my praatjie oor: hoe help ons onsself en mekaar as die lewe klappe uitdeel en vol verlies en pyn is? Een van my coachees stoei met sy seun se dood na ‘n tref-en-trap motorongeluk. In my eie huis is Mariëtte, my vrou, elke dag in ‘n stryd om hewige skouerpyn te bestuur (na 2 operasies daaraan, en te midde van biokenetiese rehab). Sondag vra iemand raad oor haar dogter wat chroniese senupyn regdeur haar liggaam ervaar en moeg en depressief raak as gevolg daarvan.

Hoe gemaak met pyn? Dit is belangrik om te verstaan dat jou pyn, verlies, swaar of siekte nie God se straf is op iets wat jy gedoen het of nie gedoen het nie. Jesus het klaar die straf gedra. Soms is dit die gevolge van swak besluite en keuses, maar die Here is altyd bereid om ons te help as ons sy hand vat. Dikwels is ons pyn as gevolg van faktore buite ons beheer en die direkte gevolg van die feit dat ons in ‘n gebroke en onvolmaakte wêreld lewe.

Maar wat kan ek self doen? Ek gaan nie in op al die mediese en sielkundige tegnieke nie, maar ek gee met my insig oor jare net so paar perspektiewe (nie antwoorde nie).  Gebruik dit en pas dit toe soos dit op jou in jou situasie van toepassing is.

  • Geen klinklare antwoorde of goedkoop raad kan dinge reg “toor” nie. Job het nooit gehoor hoekom sy kinders dood is, al sy besittings geroof is, en hy siek geword het nie. Maar aan die einde van die verhaal het hy berusting gekry na ‘n ontmoeting en gesprek met die Here: “al het ek nie die antwoorde nie, weet ek my Here weet hoekom. Hy lewe en is in beheer. Wie is ek om met Hom te redeneer?”
  • Dis normaal om in jou situasie sin en betekenis te soek. Netsoos Job mag ons ook vra: hoekom ek? en wat is die sin hiervan? Maar ons werklike troos lê gewoonlik nie in die antwoord op hierdie vrae nie.
  • Wees goed vir jouself, gee jouself genade, moenie dit vir jouself nog slegter en moeiliker maak nie, en vergewe jouself as dit nodig is.
  • Maak vrede met jou situasie (aanvaar die feitlike werklikheid daarvan) en probeer om dit in perspektief te sien. As ons emosioneel en fisies teen ons pyn baklei, maak ons dit gewoonlik erger. En dan het ons “double trouble” soos hulle sê – ons het (1) die werklike pyn en (2) ons emosionele worsteling daarmee.
  • Kry mediese of professionele hulp as dit enigsens kan help. Gaan vir ‘n goeie ondersoek, kry behandeling, neem medikasie, leer tegnieke ens.
  • Probeer perspektief behou. Wat is wel reg en goed en mooi in jou lewe en hoe kan jy dit gebruik om die pyn te hanteer? En sê soms dankie vir die mooi wat jy steeds het.
  • As die pyn chronies is, help dit om vir jou ‘n “coping prosedure” uit te werk: ‘n paar praktiese dinge/stappe wat vir jou werk om deur te druk tot die pyn minder word.
  • Moenie met mense baklei as hulle uit onkunde dom dinge sê of aanbeveel nie. Laat dit net gaan. Hulle voel ook maar onbeholpe in die situasie en bedoel gewoonlik goed.

C.S. Lewis het gesê dat ons pyn en lyding baie keer God se megafoon is waardeur Hy met ons praat. Mag jy, wanneer dit swaar gaan, sy stem hoor en stil word en luister.

As jy mense wil of moet ondersteun in hulle swaar, is dit gewoonlik die beste om by hulle te wees en vir hulle lief en goed te wees. Hulle het nie baie woorde nodig nie, maar wel jou omgee en daar-wees.

Met hierdie woorde wil ek jou bemoedig. Onthou ook: ons Here is altyd by jou!

Geseënde Paasfees! Mag die Paaslam opnuut vir jou betekenis kry, maar mag jy ook onthou en glo en ervaar: die Here het opgestaan en die dood oorwin. Die hemel het vir ons oopgegaan. Hierdie lewe op aarde is nie al wat ons het nie. Die eintlike lewe lê nog voor.

Share