Ek hoop dat jy in al die besigwees soms tyd maak om asem te skep – ‘n tydjie om om jou en in jouself te kyk, om te beleef wat om jou aangaan, en die mooi en al die geleenthede raak te sien. Ons word so in ons dag tot dag bestaan en strewe vir oorlewing ingetrek dat ons soms ‘n deel van ons menswees afskakel – die deel wat lewenssin en betekenis gee, en mooi, estetika, konneksie, liefde en medemenslikheid kan ervaar. Ek hou van die slaagspreuk: Sieze the day and enjoy the flowers on the way while you may!
‘n Seer maar rebellerende jongman wat regtig ‘n “raw deal” gehad het, sê vir my “Oom,ek gaan hulle wys ek kan self regkom en bo uitkom!” Ek het gehou van sy terugveg-gees, maar iets daarvan maak sy gedrag en dryf reaksionêr en keer hom om regtig gelukkig te wees. My vrae aan hom was: “So, jy gaan toelaat dat jou verlede en die mense wat jou seergemaak het, jou lewe en toekoms bepaal? Gee jy nie so meer invloed aan hulle oor jou lewe nie? Laat jy nie juis só toe dat jou verlede en die seermaak-mense jou beroof van die vryheid om regtig gelukkig jouself te wees en die beste jy te word nie?” Sy antwoord was: “Ek sien wat oom bedoel. Ek sal daaroor dink…”. Maar ek wonder diep in myself: hoe kan sy menswees gesond en vry word om regtig homself te kan wees? In sy seer baklei hy teen iets, maar is nie vry om die lewe te omhels en te geniet nie…
Die laaste tyd het ek sterk onder die besef gekom van ons behoefte aan “realness”, outentiekheid. Dis hartseer hoe kunsmatig ons lewens kan word. Ons interaksie met ons werklikheid en dit wat (ons dink) ander mense van ons verwag en aan ons doen of sê, maak sy merke en littekens op ons. Ons tree dikwels al meer op om ander gelukkig te hou of om onsself teen hulle te beskerm, om in te pas of om die reg op my plekkie in die lewe te mag hê, om veilig te wees en te oorleef. Ons verloor die vryheid om spontaan onsself te wees, en om vir onsself, die lewe, ander en vir God lief te hê. Die voorreg om die lewe in te asem en te geniet.
Nou die dag in die kerk, toe ons met lof en aanbidding (“praise and worship”) besig was, het ek diep onder die besef gekom dat die Here ons nooi om in sy liefdevolle teenwoordigheid te kom soos ons is. Sy vergewende genade verwelkom ons met oop arms ten spyte van ons pyn en sondes en ten spyte van ons verkeerde reaksies op ander se seermaak en sonde. Dis ook in daardie ruimte waar ons kan “sterf” aan onsself en ou nuttelose dinge en gedagtes kan laat gaan en ander kan vergewe, om te her-fokus, om vry te word om nuut te lewe. Dit gebeur slegs as die konneksie met jou ware self en met God (wat lewe gee) herstel word.
Op my tafel vandag lê ‘n kaartjie met die woorde daarop: Ek hoop jou dag is vol vreugde –“verbly jou altyd in die Here” – Fil4:4. Billy Graham het by geleentheid gesê: “daar is meer vreugde in die swaai van my hond se stert as op die gesigte van baie Christene”. Soms wens ek ons kan baie meer spontaan net “wees” en in die nou die nou geniet.
Vriende, ek hoop jou dag is vol vreugde – dat jy vanuit die Here se genade vry sal wees om bly te wees.