Vroeër hierdie maand het ons Moedersdag gevier. Party skeptici voel dis onnodig want elke dag is mos moedersdag. Dis miskien waar ja – maar elke dag moet moeders kliphard werk sonder veel werklike dankbaarheid en erkenning. Meeste moet dubbele rolle vervul – een by die huis (vir man, kinders, huishouding) en een in die markpleine daarbuite (professioneel en energiek). Min kere stop ons regtig om te besef hoe baie sy doen. By mammas se begrafnisse word die mooiste goed gesê, maar ons hoef mos nie tot dan te wag nie!
Vrou-wees in vandag se tye is nie vir “sissies” nie. Miskien het die persoon wat Spr 31:10-31 geskryf het, gesien wat baie vroue vandag sou doen. Duidelik moet so ‘n veelsydige (byna bonatuurlike) vrou haar krag, wysheid en vernuf van iewers kry. Spreuke sê dit begin met ‘n lewende verhouding met die Here. Hoe dan anders…
Ek wil ‘n stukkie aanhaal uit die briefie wat ek aan die Mamma van ons huishouding geskryf het, maar rig dit ook aan elke mamma as ‘n huldeblyk en dankie-sê:
Dankie vir elke stukkie gee van jouself, vir elke belegging, elke stukkie luister al was jy soms moeg en was jou kop vol van jou eie ervaringe en sorge. Dankie vir elke sarsie liefde en jou konstante stroom van omgee en opreg belangstel.
By ons gemeente se erediens het ek op moedersdag imprompto die geleentheid gehad om ‘n paar woorde te sê. Ek het gepraat oor die feit dat baie vroue nie voel dat hulle na waarde geag en gewaardeer word nie – maar toe gesê dat die Here dit wat jy doen raaksien en waardeer, al sien niemand anders dit ooit raak nie. Hy ag jou vir wie jy is en jou vrou-wees. Sommiges voel dis alles net te veel gevra vir een mens. Baie vroue en mammas voel by tye moeg en uitgeput – maar daar is ‘n Here wat sê dat jy na Hom toe kan kom as jy so voel en Hy sal jou rus en krag gee (Matt 11:28-30).
Later daardie week het ‘n ouer tannie in reaksie so ‘n hartseer epos gestuur oor kinders wat haar verstoot het en niks met haar te doen wil hê nie. Sy is stukkend daaroor. Ma’s maak foute en het ook hulle eie issues, maar meeste probeer hulle bes.
Ek en Mariëtte is nou in ‘n nuwe fase. Ons nes is leeg en die voëltjies doen wat hulle bedoel is om te doen: hulle vlieg en skrop hulle eie nessies. Dit bring ons in ‘n nuwe heerlike seisoen van dáár wees vir hulle, voorbidding doen, mentor-wees, al is dit om meer te luister as om raad te gee. Vir ons twee, vir my en Mariëtte, is dit ‘n nuwe fase van mekaar herontdek, nuwe dinge te ontdek en om ‘n nuwe lewe in die nuwe fase te bou. Dis ‘n nuwe avontuur met klomp nuwe opwindende geleenthede en vryhede!
Op hierdie persoonlike noot groet ek vir eers. Mooiste wense vir jou – ook met jou gesin, werk en dag-tot-dag uitdagings!