Die laaste tyd het ek weer in my werk gesien hoeveel onmin en konflik ons kan kos. Ek is tans by twee organisasies betrokke om strydende partye te probeer help om mekaar te verstaan, vrede maak, hande vat en saam in dieselfde rigting te beweeg. Onmin en verdeeldheid verwoes vertroue, maak verhoudinge seer, steel lewensvreugde, en neem soveel kosbare tyd op. Dit kos letterlik duisende rande – omdat produksie afneem, meer mense siek word, medikasie geneem word, mense bedank, kliënte swak bedien word, intervensies benodig word wat tyd en geld kos…
Volgens ‘n verslag blyk dit dat Suid-Afrika in ‘n meting oor 144 lande heel laaste gemeet het toe dit by onderlinge verhoudinge tussen werkgewer en werknemer kom. My ervaring is dat óók onderlinge verhoudinge tussen kollegas dikwels maar sukkel.
Die probleem is dikwels dat baie van ons nie bewus is van hoe ons optree en hoekom nie (unawareness). Ek het onlangs by ‘n maatskappy baie oorsigtelik opleiding gegee oor Transaksionele Analise. Dit is ‘n kragtige sielkundige model wat kyk na die interaksies (transaksies) tussen mense en vanuit watter “ego-staat” jy dit doen. Daar is hiervolgens drie ego-state: Parent (sorgend, beheernemend en beoordelend); Adult (Realisties, positief, emosioneel gebalanseerd); en Child (behoefte-bevredigend, soeke na sekuriteit, rebellie, toegee en aanpas vir eie voordeel). As ek Parent-gedrag teenoor jou wys,ontlok dit gewoonlik die Child in jou. As ek Child-gedrag teenoor jou gebruik, ontlok dit gewoonlik Parent-gedrag. Die kuns is om die beste van Parent (omgee en rigting gee) en van Child (spontaan en samewerkend) terwyl jy emosioneel gesond in die Adult bly.
My vraag aan ons is: hoe baie van jou gedrag kom uit verkeerde plekke? Kom ons wees eerlik oor die volgende – waar bevind jy jouself die meeste?:
- Parent: Dink ek my manier is die enigste en regte manier? Wil ek meerderwaardig soms vir ander dink? Wil ek vir hulle sê wat om te doen? Veroordeel ek hulle gedrag vanuit my denkraamwerk (soos ek geleer is)? Of neem ek hulle verantwoordelikheid om self probleme op te los, by hulle oor? En voel ek dat ek almal se probleme moet oplos (ma-speel) of oral keer dat ander tog net nie ongelukkig is nie?
- Of Child: Tree ek soms bloot op soos ek voel? Is ek soms kinderagtig, kleinserig, of tree ek uit my eie seer op? Is my gedrag selfgesentreerd, gerig op my eie “wen” ten koste van ander? En tree ek soms onverskillig en onverantwoordelik op sonder om aan die gevolge te dink?
Of positief gestel: hoe baie kyk ek realisties en medemenslik vanuit die Adult hoe ons almal saam kan wen, neem ek ander se opinies en gevoelens in ag, en dink ek hoe ons mekaar kan help en saam gelukkig en suksesvol kan lewe? Nie omdat ek moet of bang is nie, maar omdat ek wil.
Dit sluit nogal aan by wat die Bybel sê: óf jou gedrag is wetties (onder die wet) óf onder beheer van jou sondige natuur (vlees). Gaan lees weer Gal 5:1-26. En dan sê die Bybel dat daar ‘n ander opsie is: om as Christen, as vrygemaakte mens, jou gedrag onder beheer van die Heilige Gees te plaas – om in die Here se krag “ja” te sê vir dit wat liefdevol teenoor God en ons naaste is. Dan sien ons: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Gal 5:22-23). Dan is jy vry, dan lewe jy regtig…! Dan tree jy volwasse op as nuwe mens: verloste kind van die allerhoogste God. En dan sien ons getransformeerde verhoudinge en mooi werkplek.
So paar dae terug (27 April) het ons lan Vryheidsdag gevier en Woensdag was dit Werkersdag (1 Mei). Vir baie van ons sê dit nie veel nie. Tog het dit vir ander groot betekenis. Ek dink vir ons as Christene behoort dit ons weer te laat dink wat vryheid werklik is – om vry te wees van die wet en straf op sonde, maar ook vry te wees van jou sondige natuur sodat jy voluit vir God kan lewe! En werkersdag? Kom ons wees dankbaar as ons ‘n werk het, wees ‘n aangename mens vir ander om mee saam te werk, bou saam aan ‘n lekker werk-omgewing, en gebruik my talente tot eer van God. Mag ons land werklik vry wees – sodat almal ervaar dat daar gelyke geleenthede is! Mag ons arbeidsituasie verander sodat werkers en werkgewers saam kan werk om ‘n beter toekoms vir amal te skep! Ek en jy het ‘n rol om daarin te speel.
Mooiste wense vir jou – ook met jou werk en uitdagings!