‘n Paar dae terug moes ek by ‘n ouditeursfirma oor “Onderhandeling” as ‘n professionele vaardigheid praat. Ek het my kop bietjie uitgesteek en die gesprek afgesluit oor die beste onderhandeling wat ooit plaasgevind het – in ons guns. God het sy Seun aan ‘n kruis laat sterf en uit die dood laat opstaan. Sy aanbod is dat dié wat in Hom glo, die ewige lewe sal ontvang. Wat ‘n bargain! Mag hierdie Paasfees jou opnuut onder die indruk van God se liefdes-aanbod bring.
Saam met baie ander hoop ek dat die BRICS-beraad goeie gesprek en onderhandeling sal oplewer. Maar kom ek sê ‘n paar dinge oor onderhandeling in die alledaagse lewe – iets wat in ons tyd al hoe belangriker word:
- Ons is elke dag besig met onderhandelinge – wanneer ons afsprake maak, koop en verkoop, kar bestuur (oor wie eerste ry ens), in ons gesinne praat oor wie doen wat, en ook in ons verhoudinge by die werk. So, dit is die moeite werd om te leer om so goed moontlik te onderhandel.
- Tradisioneel is daar twee benaderings: [1] die harde benadering (ek wil kry wat ek wil hê) en [2] die sagte benadering (ek wil die verhouding en vrede koester en jou guns behou).
- Die beter (3de) opsie neem die beste uit beide benaderings: Hard op probleme (die kwessie waaroor ons praat), maar Sag op mense (die verhouding). Dus: ferm, maar vriendelik.
- In die derde opsie gaan dit nie oor my posisie en my voordeel nie, maar oor beide partye se belange en behoeftes. En dan ‘n soeke na ‘n gesamentlik strategie hoe beide as wenners daaruit mag stap terwyl die verhouding versterk word. Dus vat ons hande om saam teen die probleem te baklei in plaas van met mekaar.
- Die kuns is om dieper te kyk as dit wat geëis word – na ware behoeftes en belange. En om dan eerlik en regverdig daarmee om te gaan.
- Die eerste voorbeeld: twee sussies baklei oor tien lemoene in die huis. Beide wil iets daarmee doen in die kombuis. Die ma probeer vrede bewaar en sê hulle kan elk tien kry, maar beide is ongelukkig, Die pa tree tussenbeide en hoor wat elkeen se behoefte is: die een wil lemoensap maak, die ander een marmelade. Die oplossing is logies: die een druk die sap uit en die ander een neem daarna die skille om marmelade te maak.
- ‘n Tweede voorbeeld: ‘n Bankbestuurder kry iemand wat kla oor die bankfooie. Hy luister eers mooi en vra hom toe hoe dit in sy besigheid gaan. Die man noem dat dit moeilik gaan. Die bankbestuurder bied aan om vir hom die kontakbesonderhede van ‘n paar potensiële kliënte te gee. Daarna het die man nie meer probleme met die bankfooie gehad nie…
- Meeste onderhandelinge is komplekser, maar die beginsels bly dieselfde. En dikwels vra dit opoffering en volwassenheid van beide partye. Maar só wen ons saam – in besigheid en die lewe.
Dit is dikwels ontstellend hoe onderhandelinge in ons land baie keer vyandig gehanteer word, swak geluister word en baie keer meer komplekse probleme veroorsaak. Nie net die partye verloor direk en indirek nie, maar ook die land. Een so ‘n voorbeeld is die onderhandelinge by Marikana. Nog een is die onlangse onderhandelinge oor die lone van plaas-arbeiders.
Ek het so ‘n paar naweke terug ‘n werkwinkel oor “Transformational Revival” bygewoon. George Otis, die aanbieder, het letterlik honderde plekke waar dit gebeur het, nagevors en dit verfilm. Dit het my opnuut laat besef hoe dringend ons land God se hulp nodig het – veral in die lig van toenemende lyding, werkloosheid en armoede, rasse-onrus, korrupsie, gebrek aan ware leierskap, en swak dienslewering.
Kritisering en blamering gaan ons nie help nie. Ook nie debatte en hofsake nie, hoewel dit soms nodig is. Ware herlewing en transformasie deur God en sy Gees kom gewoonlik as ‘n uitvloeisel van mense wat hulleself voor God verootmoedig, hulle en hulle land se sondes bely, en regtig desperaat bid. Mag ons waarlik besef waar ons hulp vandaan kom en wat ons God kan doen – om ons én deur ons!
Jesus het immers gekom vir meer as net ons idividuele sondes, maar ook om sy koninkryk te kom vestig. Hy het die evangelie van die koninkryk verkondig. En ons bid mos: “laat U koninkryk kom!” Dit gebeur nie sonder transformasie nie, en die transformasie begin allereers by onsself, ons gesinne en kring vandaar af verder uit…