Soms maak dit mens benoud hoe vinnig die lewe verbygaan. So oor twee maande word ek 50. Dit maak dat ek bietjie oor my lewe en menswees nadink. Ek vra eksistensiële vrae oor die betekenis en sin van die lewe, my lewe. Ook vra oor my identiteit. Wie is ek, wie wás ek, wie is ek besig om te word? Ek het een oggend spontaan die stukkie hieronder daaroor geskryf. Hoop jy kan daarmee identifiseer.
EK IS MEER…
Ek is nie wat ek het nie,
nie my ouderdom nie,
ook nie hoe ek lyk nie.
Ek is nie wat ek bereik het nie,
nie my titel óf posisie,
nie my huwelikstatus óf kwalifikasies,
nie my ervaring óf kennis nie.
Ek is meer.
Neem dit alles weg van my,
al sou dit baie swaar wees,
sal ek nog steeds ék wees –
unieke mens, unieke homo sapiens,
uniek tussen-saam met ander, tog op my eie,
in gedeelde ruimte, in my spasie.
Ek is…
Ek is méér as my hartklop, meer as my asemhaling,
Ek is my liefde vir God en mense.
Ek is my private innerlike dimensie waar niemand kan sien nie,
behalwe ek en God.
Ek is méér as die dinge wat ek doen,
méér as die gedagtes wat ek dink.
Ek is óók my gevoel en genot … en tog meer.
Ek is veral my diep bewustheid van lewe en van sin,
bewustheid van unieke self, van ander én van God…
van nou én ewigheid!
EK IS NOU!
Ek is nie wie ek was nie – my verlede met sy vreugdes én seer,
hoewel dit ‘n groot invloed het op wie ek vandag is.
Ek is nie wie ek sal wees nie – my planne, ideale en drome,
hoewel dit beïnvloed wie ek besig is om te word.
Ek is wat ek vandag is – in die nóu, met alles wat ek kies om na die nou te bring.
So ek kies om die mooiste te onthou van die verlede,
om die mooiste te droom oor die toekoms,
en die mooiste te sien in vandag, die hede…
en al dié mooi te bring na die nou, en met jou te deel – as jy wil.
Jesus sê: moet jouself nie bekommer oor môre nie,
want elke dag het genoeg moeilikheid van sy eie.
So help behepthheid met die verlede ook nie:
want dan word dit ‘n tronk wat my gevange hou.
Dus leef ek positief in die hede, in vertroue op die Here,
en maak die beste van die nou, want môre is dit verby.
Eendag – miskien oor ‘n dag óf oor vyftig jaar óf iewers tussen-in –
maak ek klaar met die nou-momente op aarde
… in ruil vir die ewigheid by God.
Hoe meer ek in die nou lewe, hoe meer word ek vry om ék te wees
– vry van die nostalgie én seer oor die verlede,
vry van oordrewe idealisme én vrese vir die toekoms.
Ek word vry om hier te wees, die nou te geniet, mens te wees.
Ek asem die lug in, sien die son, ervaar lewe met my hart.
Ek is… nou!
Baie sterkte met die vrae wat jy ook soms vra. Mag jou lewe voluit sinvol wees in die Here – in die nou van vandag.