Nuusbrief 5 in 2012

Ek hoop dit gaan goed daar en dat jy ons Suid-Afrikaanse winter met ‘n warm hart hanteer!

Praat van warmte: ek het die afgelope naweek ‘n kursus gedoen oor Transaksionele Analise (Parent-Adult-Child, en I’m Ok – You’re OK). Hulle verwys onder andere na “Strokes” en hoe belangrik dit is. ‘n Stroke is ‘n manier hoe jy vir mense wys dat jy hulle raaksien en hoe jy erkennig gee aan iemand se bestaan en doen en late. En dan sê hulle: “What you stroke develops“. Met ander woorde as jy net oor negatiewe dinge terugvoer gee, ontwikkel dit. As jy op die positiewe dinge fokus en vir mense vertel wat jy van hulle waardeer, sal dit ontwikkel en groei. Die rede? Mense wil raakgesien word, al is dit dan net vir die negatiewe dinge. Mag ons die positiewe in mense raaksien en erken, al is dit soms min! So raak ons ‘n positiewe faktor wat ander help groei en groei.

Gisteraand bel ‘n kliënt my oor ‘n werknemer in ‘n bestuursposisie wat die karaktertoets oor en oor druip – ten spyte van waarskuwings en hulp. Hy is ‘n “nice” en “likable” mens, maar sy oneerlikheid maak hom onbetroubaar. Hy is uitgevang. Wat nou…? Larry Burkett skryf in sy boek, Business by the book: “when dishonesty is tolerated or overlooked, the wicked prosper and the honest suffer“. En die Bybel sê dat bietjie suurdeeg die hele brood deursuur, en dat slegte suurdeug verwyder moet word (1 Kor 5:6-8).

Miskien het jy ook al met jou eie en ander se karakterfoute gesukkel. Karakter word oor jare gevorm deur voorbeelde wat ons sien, keuses wat ons maak en gedrag wat ons kweek. Dit is verbind aan ons waardes, en bepaal ons lewensuitkyk, denk- en gedragspatrone. Wie ons is (being), is soveel belangriker as wat ons doen (doing). Kan ek karakterfoute regstel? Ja, met die Here se hulp, radikale besluite vir nuwe lewenswaardes en gedrag, doelbewuste lewensverandering en konsekwente dissipline. (Die Griekse woord vir bekering metanoia beteken denkvernuwing.) Gewoonlik het ons iemand of ‘n groep nodig om ons te begelei op die pad.

Een gebeurtenis in Suid-Afrika wat die tonge aan die praat het, is die skildery (The Spear) van Jacob Zuma met sy geslagsdele ontbloot. Die skilder Brett Murray beskou dit, saam met sy ander skilderye in die uitstalling, skynbaar as sosiale kommentaar. In hierdie geval is dit waarskynlik kommentaar oor die ANC leierskap en Mnr Zuma se sedes in ‘n konteks dat hy as leier ‘n voorbeeld eerder as verleentheid moet wees. Dit is opvallend dat ‘n blanke man die skildery gaan gevandaliseer het en dat duisende mense ‘n protes-optog daaroor gehou het. Die skildery word deur baie as disrespekvol en deur ander as rassisme gesien. Meeste van ons voel nie dat die skildery in goeie smaak is nie. City Press het sy reg op vryheid van spraak prysgegee ter wille van versoening en medemenslikheid. Die skildery is al ‘n tyd gelede vir R135000 verkoop, maar kan vorentoe vir sy histories-toegevoegde waarde miljoene werd wees.

Die hele episode ontbloot egter baie meer as wat ons dink. Dit leer ons onder andere die volgende:

  • Geloofwaardigheid in karakter en leierskap is baie belangrikheid. En dit is iets waaraan jy jou hele lewe lank aan moet bou. Leierskap sonder goeie waardes boemerang. John Maxwell noem dit “big on the outside, small on the inside”. (Verwysend na leefstyl, nie anatomie nie.)
  • Wedersydse respek en versoening is belangrik in die openbaar, maar ook in persoonlike verhoudinge. En om die regering te eer is deel van die 5de gebod.
  • Moenie oor negatiewe goed (negatiewe kritiek en kommentaar) oorreageer nie – dit maak reklame vir dit wat sleg is en vererger die gevolge en skade net al hoe meer.
  • Ons rasseverhoudinge in SA is nog baie breekbaar – ons moet dit koester en brûe bou, nie afbreek nie. Kom ons wees vredemakers en bedienaars van vesoening.

Op ‘n ander trant, ek weet dat baie wat hier lees, sukkel met werk-issues, persoonlike finansies, emosionele droogtes. Die grootste probleem kom as jy in sak en as gaan sit en moed opgee. Dan droog hoop, kreatiwiteit en energie op. Mag jy kies om gelowig-positief te bly, aktief jou kant bring, besef en gebruik wat jy het (gawes en middele), en jou oë oophou vir die geleenthede om jou – om goed te doen, verskil te maak en sukses te bereik. Soms moet ons in droogtes geduldig wees en voorberei vir die volgende reënseisoen. Dit sal weer reën – wees voorbereid.

Share