Ek het verlede Donderdagoggend (21/7) die voorreg gehad om op RSG die gas te wees op die gespreksprogram Praat Saam. Die tema was “Professionele Gedrag”. Dit was na aanleiding van ‘n artikel in Die By wat ‘n bylaag is by die koerante Die Burger en Die Beeld. Ek was aanvanklik huiwering, maar kon nie vir die geleentheid “nee” sê nie. Op die manier kon ek op een slag letterlik duisende mense beinvloed met koninkryksbeginsels sonder om spreekwoordelik “met my geloof op die mou te loop” of “mense met die Bybel oor die kop te slaan” nie. Ek het wel op ‘n natuurlike manier dit probeer kommunikeer dat ek ‘n Christen is.
Die inbellers tydens en veral na die program het my laat besef hoeveel mense gefrustreerd is met onprofessionele gedrag. Op ‘n vraag oor wat professionele gedrag is, het ek geantwoord: dit is ‘n bepaalde styl van gedrag in die werkplek, gebaseer op bepaalde waardes en ‘n professionele rol, en dit word gesien in hoe jy optree en mense behandel. Dit gaan veral oor jou karakter asook jou kundigheid en vaardigheid (of bekwaamheid). Op ‘n vraag of daar sekere “pilare” is waarop dit gebou word, het ek genoem dat ek veral 5 pilare wil uitsonder want hierdie goed bepaal jou gedrag:
- Karakter – dit is wie jy diep binnekant is en wat jy doen as niemand kyk nie. Dit gaan ook oor jou waardes en gesindheid. Waarvoor (of vir Wie) werk jy? Waarvoor staan jy?
- Identiteit – Hoe sien ek myself – wie is ek regtig by die werk? Hoe sien ek my rol en funksie by die werk? Ek is my eie “Eindoms (bpk)” of “Pty (ltd)” – hoe lyk ek as handelsmerk? Pas my voorkoms en kleredrag by my identiteit sodat mense kan sien wie ek is?
- Persepsie van Kliënt – Wat is my persepsie van die kliënt en sy behoeftes? Is ek regtig diensbaar aan hom/haar? Is hy maar net ‘n laspos of iemand uit wie ek geld wil maak? En onthou daar is interne kliënte (die mense by die werk) en eksterne kliënte aan wie ons verkoop en vir wie ons bedien. Gee ek meer as dit waarvoor ek betaal word?
- Kundigheid – Weet ek wat om te doen en hoe om dit so goed moontlik te doen? Bou ek aan my vaardighede?
- Emosionele intelligensie – Bestuur ek my eie emosies op ‘n gesonde manier? Reageer ek op ander se emosies op ‘n wyse manier? Bly ek vriendelik en tog ook ferm? Of is ek dikwels buierig, nukkerig, oordrewe ingestel om deur ander aanvaar te word, moeilik om mee saam te werk, ontoeganklik, oorsensitief, onvriendelik?
Ek is seker jy kan nog ‘n hele paar goed noem. Maar toets jouself gerus aan hierdie goed. Hoe professioneel is ek in hierdie dinge? Dit bepaal in hoe ‘n mate mense my sal vertrou, hoe my loopbaan sal loop, hoe ek oor myself en my werk sal voel en hoeveel ek God met my werk sal eer.
Op ‘n ander noot. Die afgelope tyd was vir ons as familie ‘n emosionele tyd. My aangetroude niggie, Hannelie Oostenbrink, is op pad terug van ‘n evangelie-uitreik in Mosambiek in ‘n botsing tragies oorlede. Hulle het 13 Julie om 6vm teen ‘n stilstaande vragmotor gebots. Sy laat haar man, Jacob, en twee kinders Marissa en Henk agter. Haar ouers het 3 jaar terug ‘n ander dogter en dié se man ook in ‘n ongeluk verloor. Hannelie en nog ‘n persoon is oorlede, ‘n predikant Ds Gerrie van wyk het ernstige breinbeserings opgedoen, hele paar ander is beseer en die groep (en baie van hulle familie en vriende) was geskok, ontnugter en getraumatisser.
‘n Mens sou kan vra: “Hoekom Here? Hulle het dan u werk gedoen?” Die harte feite is dat niks ons vrywaar van die gebroke werklikheid, pyn en dood in hierdie wêreld nie. Die mooi is dat ons weet: maak nie saak wat gebeur nie, niks kan ons van die Here se liefde skei nie. Ons lewensbootjie gaan deur dieselfde storms as ongelowiges, maar ons Here gaan saam met ons daardeur – selfs al gaan ons fisies dood. En soos Ds Louis Buys gister (Maandag) by die begrafnis so mooi gesê het: ons staan hulle nie af aan die dood nie, maar aan die Here by wie hulle nou is.
Die teks was Filipense 1:21 “Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins“. Wins is positief en voordeel… Kan ons elkeen die vers ons eie maak en dié woorde met oortuiging sê? Hannelie het op soveel maniere juis dit gesê, dit geskilder en gepraat. Haar passie was die Here en dat meer mense Jesus moet leer ken. Hoe wonderlik is dit dat sy na die Here toe kon gaan, terwyl sy besig was om haar passie uit te leef!
Vriende, om terug te kom by ons werk: die Here roep ons om te werk – nie net om ons brood en botter te verdien nie, maar bo alles om ander te dien en Hom te eer. Kom ons doen dit so goed ons kan tot ons ons laaste asem op aarde uitblaas!
Liewe Johann en familie
Ek is innig jammer oor die verlies van julle geliefde. Ek bid dat die Here julle en julle families deur die moeilike tyd sal dra. Jy is natuurlik reg dat HANNELIE nou by die Here is, en dat haar afsterwe eintlik nie ‘n tragedie is nie.
Ek is op die oomblik in London en gaan vir ‘n kort rukkie by Oxford studeer. (The battle of Britain revisited en CHURCHILL se strategie gedurende die 2e Wereld oorlog). Zelda het die besoek en kursus vir my as verjaarsdag gegee. My tyd hier in London is nogal ietwat van ‘n ‘spiritual’ belewenis omdat my oorlede Pa so in die 2e Wereld oorlog belang gestel het. Daar het soveel groei by my plaasgevind en ek is so diep dankbaar vir die wonderlike geleenthede wat aan my gebied word. Ek hoop om dieper insig te verkry in strategie, en hoe om onder groot druk behoorlik besluite te kan neem.
ps: Ons het toe met JACOB en familie gekuier en baie oor jou gepraat.
Groete
DANIE
0824670864