Nuusbrief 5 in 2011

Paasfees het ons opnuut bemagtig om voluit te lewe. Ons kon Paasfees (pass-over) vier met die verskering dat die doodsengel by ons verbygaan weens die bloed van die Lam! Jesus se dood en opstanding bring ons in die regte verhouding met ons God en gee ons oorwinning oor ons grootste vyand, die dood. Ons aardse liggame sal eendag sterf, maar ons eintlike lewe begin dan by die Vader. Die Paasgebeure gee jou ‘n tweede, derde en tiende kans om weer te begin as jy misluk het. En dit gee jou die sekuriteit dat jy oukei is by God, meer as oukei: jy is geanker in ‘n liefdesverhouding met Hom vir altyd!

Baie van ons het Vrydag na die koninklike troue gekyk. Dit was inderdaad pragtig en maak mens opgewonde oor die mooi van liefde en die huwelik. Ons smag vandag na voorbeelde van ware liefde en ware geluk, na iets meer as net ‘n feeverhaal waarin ons ontvlug. So ‘n mooi troue maak dan menige jongmense weer wil glo dat ware huweliksgeluk tog moontlik is al sien ons om ons so baie stukkende verhoudinge en seer mense. Ander ontnugterdes of skeptici lag dit alles af as vertoon en vermaak. Die volgende dinge staan vir my opnuut weer uit:

  • As jy suksesvol wil wees in jou lewe, werk en roeping, begin om eers ‘n sukses te wees in jou persoonlike lewe en intiemste verhoudinge. Daarsonder kan ons baie moeilik getuies en ambassadeurs vir die Here wees. (Prins Charles se lewe sal onthou word as iemand wat in sy liefdeslewe misluk het en daarom ook in sy openbare lewe nooit die sukses was wat hy kon wees nie.)
  • Die Here se bedoeling met die huwelik is dat twee mense mekaar kan help en waarlik een kan wees. Ek hoop William en Kate en ons ander getroudes kan dit snap – want “‘n man sal sy pa en ma verlaat, en sy vrou aankleef en hulle twee sal een wees”. En hierdie eenheid beteken nie eendersheid nie, maar wel dat twee mense in eensgesindheid hulle lewens (hart en siel en liggaam en praktiese goed) met mekaar deel en saam vorentoe beweeg.
  • Binne die eenheid lê ons geluk, maar dis iets wat maklik versteur kan word. Daarom moet ons hard daaraan werk, baie kommunikeer (praat én veral luister), aanhou om op die die mooi in mekaar te fokus en te waardeer, onsself voluit gee, ons eie-ekke kruisig, mekaar vergewe, geduldig wees, opoffer, mekaar se swakhede liefdevol verdra, aanhou spesiale dinge vir mekaar doen volgens my maat se behoeftes en persoonlikheid, en ook spesiale dinge saamdoen.
  • Die huwelik is ‘n aanhoudende groeiproses en verander soos ons ouer word en gesinsomstandighede verander. Dis normaal en die aanpassings is deel van die journey.
  • Elke huwelik gaan soms deur moeilike tye want ons lewe op planeet aarde. Dis dan wanneer ons moet vasbyt en nie sommer moed opgee nie. Dis dan ook tyd vir introspeksie doen en in jouself en jou styl van dinge doen, verander wat jy kan. Ons moet in sulke tye dinge deurpraat wat ons kan deurpraat, mekaar se harte mooi hoor, vrede maak met wat ons nie kan verander nie, vergewe, en opnuut onsself gee.
  • En dan moet ons oppas om nie van onnodige dinge “issues” te maak nie (“don’t sweat the small stuff”). Soos mens langer getroud is, besef jy dat party dinge nie die moeite werd is om oor te stry of baklei nie.
  • Oppas vir onrealistiese verwagtinge en eise aan jou huweliksmaat. Dis nie jou huweliksmaat se werk om jou gelukkig te maak nie. Die huwelik is ‘n ruimte waarin twee mense hulle geluk met mekaar kan deel. Ware geluk lê allereers in jouself en in jou verhouding met die Here. Twee gelukkige mense wat hulle geluk en lewe met mekaar deel, is saam gelukkig.
  • Min dinge is so mooi soos twee ouer mense wat steeds vir mekaar lief is, hande kan vashou en mekaar respekteer en waardeer. Min dinge is so hartseer as twee getroude mense wat op hulle ou dag vreemdelinge vir mekaar is omdat hulle mekaar langs die pad verloor het. Die geheim is: sorteer dinge so gou moontlik uit en kies om saam gelukkig te wees al is als nie volmaak nie.

Vriende, die jaar is al in sy 5de maand. Die woorde “Maak die beste gebruik van elke geleentheid want ons lewe in ‘n goddelose tyd” (Ef 5:16) beteken nie dat ons vir elke versoeking of geleentheid moet swig nie, maar dat ons met wysheid en oordeelkundigheid sal lewe en die geleenthede wat die Here na ons toe bring reg sal gebruik. Ons is geroep om as koninkryks-ambassadeurs anders te lewe. Wees ‘n entrepeneur en agent vir die koninkryk, sien geleenthede raak, maak die verskil wat jy kan.

Kom ons bid in hierdie tyd vir die plaaslike verkiesings in ons land en vir goeie leiers met karakter en kundigheid (2 belangrike k’s), mense wat sal dien, en kan en wil en sal doen wat hulle belowe het. Miljoene rande word wan-aangewend en miljoene mense ly daaronder. Die mense wat die meeste kla, is gewoonlik mense wat redelik bevoorreg is en ‘n “stem” het. Mag ons as Christene harder stry vir hulp aan die armes en sukkelendes, en meer doen as politici. Mag ons sout van die aarde en lig van die wêreld wees wat ‘n verskil maak waar ons is.

Seën daar vir jou en jou bediening elke dag waar jy lewe en werk.

Share