Ek weet nie of daar al ooit ‘n tyd was in die wêreldgeskiedenis was, waarin die mensdom weens herhaalde natuurrampe so bewus geword het van die onvolmaatheid en die breekbaarheid van ons aardse bestaan. Met Japan se aardbewing, tsunami, bestraling en dreigende ontploffings van hul kernreaktors het ons weer as wêreld in skok ons hande saamgeslaan.
Dit laat mens wonder: wat maak ek as my lewe skielik so aan flarde geskeur word? Die een oomblik bly jy nog lekker met jou gesin in jou huis in ‘n dorp of stad, met ‘n redelike werk en geordende lewe. Die volgende ooblik is alles in flarde: van jou gesinslede is dood, al jou aardse sekuriteite is weg, jy is honger en kry koud, en jy weet nie hoe nou vorentoe nie. Wat my opval van Japan is hoe ordelik en redelik kalm die mense dit oënskynlik hanteer. Westerlinge het dit gekontrasteer met rampe wat in die Westerse wêreld gebeur het en hoe chaoties dit was. Wat ek daaruit leer is dinge soos die volgende:
- Leef Realisties. Die Japanners leef al lankal met die besef dat aardbewings in hulle land kan gebeur. Wanneer mens realisties leef met die feit dat terugslae deel van die lewe is, hanteer jy dit soveel beter wanneer dit kom.
- Kry die regte/beste hulp. Die Japannese het vinnig redding- en hulp-planne opgestel en nie enige reddingspan kan sommer toegang kry tot die rampgebiede nie. Dit klink dalk dom, en tog is dit waar: die verkeerde en onplanmatige hulp kan baie keer meer skade doen as goed. As jy hulp nodig het, sorg dat jy by die regte plekke aanklop en nie sommer enige iemand toegang tot jou lewe gee nie. Ons is soms so desperaat vir hulp dat ons elke helpende hand toelaat sonder om te weet of die hand regtig die vermoë en vaardighede het. Dit is beter om bietjie te wag, te beplan en die regte planne deur te voer.
- Leef met visie en hoop. Daar word reeds gepraat oor hoe Japan opgebou en herstel gaan word tot iets wat nóg beter was as die verlede. Dit gee hoop. Rick Warren sê: “You need HOPE to COPE”. Maak seker dat jy met visie leef, anders bly jy as slagoffer vasgevang in jou huidige realiteit. En moenie net wil wegkom van dit wat nou sleg is nie. Maak seker dat jy op pad is na iets beters, iets wat die moeite werd is.
Ek praat laasweek met ‘n jongman wat sy werk bedank het. Dit het nie heeltemal in terme van sy loopbaan-groei sin gemaak nie. Sy eintlike rede was dat die werksituasie en werkverhoudinge vir hom net te moeilik geraak het. My vraag aan hom was: hardloop jy nou weg van iets, of hardloop jy na iets toe? As ons weet waarheen ons mik, kan ons die korttermyn terugslae en probleme soveel beter hanteer. As ons dan radikale skuiwe moet maak, probeer ons dit (meestal) maak in terme van die visie wat in ons harte leef. En op die manier word terugslae en probleme dikwels die Here se manier om vir ons te help om die regte pad te kry, om nuwe moontlikhede raak te sien, om self te groei en gevorm te raak vir dit wat voorlê. En dan is dit ook waar: om jou pad vorentoe te vind moet jy opkyk na ons Here, terugkyk om te leer uit die verlede – uit die swaar tye én veral die suksesse, om jou kyk om die geleenthede in die realiteit raak te sien, en dan ook na-binne kyk om jou unieke Goddelike ontwerp (Unique Divine Design) te verstaan.
‘n Nuwe les wat ek opnuut van die Here leer, is hoe belangrik dit is om met moed positief te lewe. Dis ‘n moeilike ding, en dis ‘n belangrike keuse wat ‘n reuse verskil maak. So dikwels het ons twee probleme: (1) die eksterne dinge waarmee ons stoei, soos gesondheid, finansies, gesins- of werkprobleme, die politiek of die ekonomie; en in reaksie daarop (2) my interne belewing daarvan: óf ek kwaad, bitter, moedeloos, radeloos of passief en verslae terugsit, en of ek moedig en geanker voortgaan. As dinge intern reg is, het jy net een probleem: die werklike eksterne dinge wat jy saam met die Here, in sy krag en onder sy leiding kan hanteer. Dis dan soveel makliker om die lewe te hanteer. Moenie jou lewe kompliseer met ‘n verkeerde gesindheid nie. Kyk jou probleme in die oë, maak jou planne saam met die Here en oorkom dit sover jy kan.
‘n Sakeman vertel vir my hoe hy weens die ekonomie en ‘n paar ongelukkige besigheidsbesluite kwaai in die knyp sit – met skuld, kontantvloei-probleme en so aan. Dit maak hom pessimisties en moedeloos. En hy erken: my grootste probleem lê hier binne-in my, hoe ek dink en voel en reageer.
My vrou, Mariëtte, het na meer as 20 jaar weer begin om voltyds skool te gee (Engels vir graad 6’e en 7’s). Sy berei voor en sien vraestelle na baie keer tot lank verby middernag en staan 5:30 op. Maar wat my opval van haar, is hoe sy, min slaap ten spyt, (meestal) elke dag met moed en durf aanpak. Al is die werk steeds moeilik, die admin baie en van die kinders baie stout en uitdagend, is sy binnekant gesond. Dit maak dinge soveel makliker om te hanteer.
Die Bybel sê: “Bewaar jou hart (jou denke, gesindheid, emosies en wil) meer as enigiets anders, want dit bepaal jou hele lewe.” (Spr 4:23).
Mag jy in die Here se liefde en krag voluit met Hom en vir Hom lewe! Nou ja, hiermee groet ek eers!