Die jaar is nog jonk en reeds het so baie gebeur. Die lewe is ‘n proses van gewone dinge, swaar dinge, en hoogtepunte. My bede is dat jy saam met Dawid in Ps 23 sing, glo, bely en ervaar “die Here is my Herder” – die Herder wat jou in ‘gewone tye’ lei, verkwik en in groen wievelde laat eet en laat drink by waters waar rus is (vv.1-3); wat in donker dieptes by jou is en met sy stok en staf veiig lei en beskerm (v.4); en uiteindelik vir jou by sy oorwinningsmaal sal uitbring waar jou beker sal oorloop en jou teenstaander moet toekyk (vv.5-6)
In nadenke oor Elia se uitdaging aan die Baal-profete op die berg Karmel het ek die volgende besef:
- Gebed alleen verander nie dinge nie – die Baalprofete het passievol gebid; Hindoes bid; Moslems bid; voorvadergees-aanbidders bid … selfs ongelowiges sê in krisistye dat hulle bid of dat mens vir hulle moet bid. Miskien troos dit hulle bietjie, maar dit verander niks aan die situasie nie.
- Die lewende ware God wat vir ons sy Seun gegee het, kan en wil dinge in jou, om jou en vir jou verander.
- Meer as gebed is egter nodig: ‘n lewende konneksie met die lewende God. Dit sluit in om mooi te luister, vanuit ‘n verhouding te leef en te bid in lyn met God se wil en hart onder leiding van sy Gees.
- En om dan te doen soos Hy jou lei (al is dit om te wag, of iets eenvoudigs van jou kant te doen soos om die net aan die ander kant van die boot in te gooi).
- En aanvaar ook hierdie waarheid: God verhoor nie altyd ons gebede soos ons dit wil hê of soos dit vir ons sin maak nie. Maar hy hoor altyd as ons vanuit ‘n lewende verhouding tot Hom bid en met Hom praat.
Sedert ek laas geskryf het, het Libië ook in totale onrus verval en het die aardbewing in Christchurch (Nieu-Seeland) ‘n derde van die middestad vernietig. In die Wes-Kaap ervaar ons ‘n verskriklike warm somer (aardverwarming?). Saterdag (26/2) lees ek in die Die By (aanhangsel by Die Burger op Saterdae) hoeveel mense die einde van die aarde voorspel – sommiges voorspel dit so gou as in Mei 2011 en baie ander Desember 2012. Selfs National Geographic bied dit só aan asof hulle die nabye einde van die aarde as ‘n moontlikheid sien. Die eskalasie van gebeure soos oorloë en natuurrampe is vir my soos ‘n “wake-up call” dat die aarde nie vir altyd hier sal wees nie. Hierdie aarde is helaas nie ons (permanente) woning nie want ons is burgers van ‘n hemelse koninkryk en maak gereed vir ‘n nuwe lewe op ‘n nuwe aarde… en dalk gebeur dit nog in ons tyd. En dis iets om na uit te sien! Maar kom ons lewe nou alreeds as burgers van die koninkryk!
Hierdie gebeure het my onlangs in ‘n werkwinkel oor emosionele intelligensie en selfbestuur ‘n interessante geleentheid gegee. Ek het die gebeure op die tafel gesit en gevra wat hulle (‘n groep van 19 mense) daarvan dink en hoe hulle daarop reageer. Dit het gelei tot ‘n baie aktiewe gesprek oor “judgement day” en of ons reg is. Iemand het gevra “maar hoe kan ons reg wees en wat dit beteken?”. Ek het dit terug gegooi na die groep. Later kon ek in nederigheid vertel hoe ek dit sien en ‘n kort evangelie-aanbieding doen en die saad van die evangelie saai asof dit die natuurlikste ding is om te doen. Ek is seker ‘n hele paar mense is geraak. Groot genade! Ons moet die tyd uitkoop om mense te vertel wat in beheer is van die tye en gebeure. En as jyself nie gereed is om ons Here te ontmoet nie, maak reg of praat met my of iemand wat jou kan help.
Tragies lees ek in dieselfde koerant as die een wat ek hierbo noem, hoe Prof Sakkie Spannenberg (Prof in Teologie by Unisa) skryf dat ons hedendaagse mense moet vrede maak dat daar nie ‘n hiernamaals is nie – jou aardse lewe is al wat jy het. Die Bybelskrywers het, volgens die prof, hulself vergis want hulle het maar geskryf soos die pre-moderne mense van daardie tyd gedink en geglo het … maar ons weet vandag beter: as jy dood is, is jy dood. Hartseer né! Dis wat gebeur as ons slimmer as die Bybel raak en meer en meer daarvan bevraagteken. Later bly niks oor nie, alles word “simbolies” en “metafories” en die werklikheid van God verdwyn vir jou. Nee wat, kom ons hou maar liewer vas aan die waarheid van die Here se Woord en leef vir die Here nou alreeds, maar met ‘n visie van ‘n volkome lewe by Hom in sy volmaakte teenwoordigheid.
Ek is besig om ‘n paartjie voor te berei om te trou. Ek besef al hoe meer hoe ons selfsugtige eie-ekke dit vir ons moeilik maak om werklik lief te hê en die Here in ons verhoudinge te eer. Ons word geleer ek moet ander beïndruk, op my regte staan, uit die lewe vat wat ek kan, en ten alle koste probeer gelukkig wees. Die Bybel leer ons anders. In Filipense 2 lees ek: “Don’t be selfish. Don’t live to make a good impression on others. Be humble, thinking of others as better than yourself … Your attitude should be the same that was shown us by Jesus Christ, who, though he was God, did not demand and cling to his right as God” (vv. 3, 5 LB). Ons predikant sê dit so mooi in sy “Cape Flats” Engels en Afrikaans: “The I must die” of te wel “die ek moet vrek”. Want sien as die eie-ek uit die pad kom, is ek minder liggeraak, kan ek regtig begin lewe, die Here ervaar, voluit liefhê, my lewensdoel vervul, ander dien en bedien, en ongekompliseerd geniet wat ek ontvang… En dis só eenvoudig om in alles te sê Here, wees U die Koning in hierdie area van my lewe, ek klim van my troontjie af. Ja, eenvoudig, maar beslis nie so maklik nie. Maar dis die moeite werd…!