Wat ‘n voorreg dat ons Here in alles by ons is – orals! Dit is genoeg rede om met vrymoedigheid voluit te lewe. Mag jy in alles die Here se liefde en krag ervaar.
Iemand sê die regering het ten minste een belofte kon nakom: die land het oraloor lopende water… Maar grappies op ‘n stokkie. Dit het my die laaste maand getref hoe baie ons hoor van oorstromings, vloede en natuurrampe (hier by ons, maar veral ook in Australië en in die Ooste), oorloë en politieke onrus (in Egipte, Tunisië, Ivoorkus, Jordanië…), en boonop word die effek van aardverwarming vir baie mense ‘n al groter werklikheid.
Die frekwensie van dié dinge is beslis besig om toe te neem, of verbeel ek my? Sommiges vra: “Is ons in die eindtye?”. En die antwoord is “ja”, maar dis al só sedert Jesus se hemelvaart. Party mense, ook nie-Christen wetenskaplikes en gesprekvoerders, meen dat die wêreld baie vinnig besig is om na sy einde toe te beweeg. Sommiges gee 2012 as ‘n datum. Jesus sê: “Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd” (Matt 24:8). Vir ons as Christene hoef die dinge nie vreesaanjaend te wees nie. Inteendeel, ons word opgewonde en maak gereed om die Here te ontmoet – óf dit môre is, in 2012, of oor 10 of 1000 jaar. Een ding is verseker: alles is verganklik, ek en jy en ons planeet ook… Terwyl ons hier is, kan ons ons Here verheerlik en ambassadeurs van sy koninkryk wees. En ons weet mos: die beste lê nog voor – die lewe by die Here.
Gister was ons seun Ruan in ‘n slegte motorfiets-ongeluk. ‘n Motorbestuurder het onverskillig voor hom ingedraai het. Ruan kon maklik sy lewe verloor het, maar die Here het besluit dit is nog nie sy tyd nie. Die motorfiets het redelik baie skade (moontlik afgeskryf), maar Ruan kon opstaan met slegs ‘n baie seer been wat kwaai geswel het (hy loop met krukke). ‘n Deel in my wil die man gaan regsien of ten minste ‘n paar goed vir hom sê, maar ‘n ander (grootste) deel is dankbaar Ruan lewe. En boonop herinner my gewete my oor die baie kere my wat aandag nie heeltemal op die pad was nie. En so breek begrip, genade en vergifnis deur. Ek is eintlik verbaas hoe ons gesin sulke dinge al meer met grasie hanteer en aan beweeg.
Mag die Here jou ook help met die toetse in jou lewe – soms om vrede te maak, ander kere om te vergewe, partykeer om perspektief te kry, en om heel en sterk te word, op te staan en hoopvol én sterker aan te gaan. Onthou: in dit alles is ons Here daar by jou.
Nou die dag was hier by my ‘n Suid-Afrikaanse tegnikus wat in die Ooste gewerk het en in 2010 afgedank is weens die resessie. Hy het sy “geloof verloor”, sê hy. Dit gaan veral vir hom daaroor dat God nie opdaag in situasies waar Hy ‘n verskil kan maak soos in tragedies, siektes van Christene, en waar daar vir uitkoms of wonderwerke gebid word nie. Dis toe dat ek sy pyn hoor, sy terleurstelling en ‘n soeke na ‘n God wat “rêrig” is. In ‘n opvolgsessie het sy vrou saamgekom op my versoek en dis interessant dat sy ongeloof sy oorsprong in baie emosionele dinge het, maar ook in sy verhoudingslewe nou ‘n baie negatiewe impak maak. In die gesprekke sover glo ek, het hy nader aan geloof (en God) beweeg, perspektief begin kry, en ten minste weer begin hoop – ook begin hoop dat daar dalk tog ‘n God is wat hom liefhet en omgee. Die pad is nie klaar nie.
Ek ondersteun ‘n SA dame in Tsad wat in ‘n werk-kamp in die woestyn saam met ander internasionale mense werk. Sy werk ‘n maand aan en is dan ‘n maand af, nou al vir baie jare. As Christen is sy omring van ateïste en moslems. En soms voel dit vir haar of sy ook geestelik en emosioneel in ‘n “woestyn” land, waar dit droog en swaar is. Die laaste tyd het sy begin uitbrand en boonop ook die H1N1 of te wel vark-griep opgedoen. Dis mooi om te sien hoe sy selfs met haar min krag voortgaan en ‘n koninkryksambassadeur is, geestelike oorlogvoering doen en staande bly vir Christus. Ek is met my hele hart oortuig dat die Here haar in ander mense se lewens gebruik, baie meer as wat sy ooit sal besef. Intussen tel ek opnuut my seëninge om tussen so baie Christene en so baie kerke te mag wees.
‘n Oulike paartjie het my gevra om hulle te trou. Die aanstaande bruid was so 14 jaar terug ‘n katkisasiekind in my klas. Ons kon onder andere ook gesels oor die Here se begeerte om ‘n verhouding met ons te hê, dat sy wette eintlik in die konteks van ‘n liefdesverhouding verstaan moet word, en dat gehoorsaamheid nie gaan oor “punte score” by die Here nie, maar ‘n spontane deel is van ons liefde en dankbaarheid teenoor Hom. Ek het so drie jaar gelede die 10 gebooie in eietydse, praktiese taal vir myself probeer herskryf. Hier is my poging:
DIE TIEN GEBOOIE –TIEN BEGINSELS
Exodus 20
- God is nommer een. Die Here is die enigste God. Hy het my só liefgehad dat Hy sy Seun gegee het om my te red en te verlos. Daarom duld ek geen ander gode in my lewe nie en kies ek om vir Hom te lewe volgens sy wil.
- Suiwer aanbidding. Afbeeldings van God, mensgemaakte rituele, en wettisisme trek my weg van God af. Daarom kies ek om Hom in Gees en waarheid te aanbid (Joh 4) en te dien volgens sy Woord en wil. Ek lewe in ‘n lewende verhouding met die lewende God in Jesus en onder leiding van die Gees.
- Die Here se Naam. Sy Naam is heilig en as Christen (Christ-en) dra ek sy Naam. Daarom wil ek só lewe en praat, dat ek alles in sy Naam doen en sy Naam eer. Ek is ambassadeur van die koninkryk van God.
- Die ritme tussen werk en rus. Ek werk voluit en rus genoeg op die regte manier tot eer van die Here. Daarmee saam het ek gereelde spesiale tye met God in sy teenwoordigheid. Dit gebeur in my spesiale tyd met God (verkieslik elke oggend), huisgodsdiens saam met my gesin, en Sondae se eredienste.
- Gesag, eerbied en orde. Ek respekteer die gesag wat die Here oor my aangestel het, of dit ouers, die regering, leiers of base is. Ek lewe ordelik en met selfdissipline.
- Lewe en dood. Ek respekteer my eie en ander se lewens – ook in die manier waarop ek bestuur, praat, eet, oefen en optree. Ek lewe in liefde en omgee vir ander, en bely en breek met alle haat, bitterheid, woede en agressie.
- Huwelik, seks, reinheid. Ek is getrou aan my vrou en bou my huwelik. Ek hou my gedagtes skoon en vermy pornografie in enige vorm. Ek los ander vrouens uit – ook in my gedagtes. Seks is mooi, lekker en heilig en só wil ek dit geniet met die een wat die Here vir my gegee het.
- Besittings en diefstal. Ek respekteer en beskerm ander se besittings, bestuur my eie geld reg en goed, en ek vat nie wat my nie toekom nie. Ek is dankbaar en tevrede met wat ek het en vertrou die Here vir wat ek nodig het. Ek weier om toe te gee aan mammon (die geldgod) wat maak dat ek altyd meer en meer wil hê en tog nooit genoeg het nie.
- Die waarheid vs leuen. Die duiwel is die “vader van die leuen”. Die waarheid in liefde maak vry. Daarom bly ek in liefde by die waarheid (Ef 4:15) sonder om dit te verdraai en sonder om onnodig seer te maak. Ek vermy skinderstories en toets die waarheid. My woord is my eer. Wat ek belowe, doen ek.
- Begeertes. Begeertes (passie) is goed, maar ek weier om ‘n ander ou se goed, posisie of vrou te wil hê. Ek kies om dankbaar en tevrede te wees. Ek hou my hart skoon, want dit bepaal my hele lewe (Spr 4:23).
Dit gee vir ons rigting vir ons lewens en bring onverdiende seën.