Nuusbrief 1 in 2011

Ek vertrou 2011 het vir jou op ‘n goeie noot afgeskop en bid dat jy sal onthou wie jy is en dat jy elke dag toegevou in die Here se liefde is! Ons God en Vader bemagtig jou ook om blymoedig te wees en voluit te gaan om ‘n verskil vir Hom te maak. Hier is ‘n paar dinge wat kan help:

  • Staan vas in jou identiteit in Christus: Jy is ‘n geliefde kind van die allerhoogste God.
  • Leef vanuit jou sekuriteit: niks kan jou losruk uit die veilige greep van ons Vader se liefde nie. En ons God is oral waar jy gaan, by jou.
  • Handhaaf jou outoriteit want jy is gemaak, deur die Gees toegerus, gesalf en geroep om op aarde te regeer as God se koninkryks-ambassadeur. As jy ‘n ‘n vertrek instap, stap God in jou en deur jou en saam met jou daarbinne.

Einde van laasjaar het ek ‘n epos uitgestuur wat weens tegnologiese redes nie uitgegaan het nie. Hier kom nou ‘n verwerking daarvan – dinge wat ek meen lewensveranderend kan wees:

So ietsie oor emosionele intelligensie. Onlangs het ek weer ervaar hoe ek sensitiewe verhoudinge (mense) kan seermaak wanneer my eie-ek in die pad kom. Dit gebeur so maklik in situasies waarin ons emosioneel raak, druk ervaar en onsekerheid en onveiligheid ervaar dat jy jou eie belange voor dié van ander stel en vir jouself skerm – soms op maniere wat seermaak en skade berokken. En dan is dit moeilik om die stem van die Here te hoor en sy leiding te ervaar. Om die vrug van die Gees te dra, moet ons vir ons eie-ekke “nee” sê en doelbewus kies om onder leiding van die Gees te lewe (Gal 5:16-18). En as die emosies ons nugtere denke begin “hijack” en oorneem, moet ons maar eers die “pause” of stop-knoppie druk, voor ons reageer. Soms beteken dit om jouself van die situasie te verwyder en ander tye om stil te bly en vir eers niks te sê of te reageer nie. Sulke tye help dit om rustig by die Here te word en oor die dinge wat pla, met Hom te praat en die waarheid oor die situasie te ontdek en te bedink. Mag ons hierdie feestyd emosioneel wys bly, baie genadig wees, maklik vergewe en vrylik liefde uitdeel of mense dit verdien of nie. Onthou dat Jesus ons van ons sondige natuur bevry het – ook van sondige emosies – sodat dit ons nie meer gevange hou nie en ons in sy krag al meer daaroor kan heers om as nuwe mense te kan lewe. Kom ons bly “ingeprop in Jesus” (Joh 15) soos lote in die Wynstok wat baie vrug dra…

Ek het ‘n goeie sielkunde-lesing oor selfvertroue (confidence) bygewoon. Eintlik is die Afrikaanse woord “self-vertroue” nie so beskrywend soos die Engelse “confidence” nie. “Confidence” beteken iets soos innerlike sekerheid en vrymoedigheid. Vir ‘n Christen beteken dit natuurlik om jou vertroue op die Here te stel en met moedigheid die talente wat Hy jou gegee het te gebruik om die geleenthede en uitdagings van die lewe te hanteer. In elk geval, die volgende lesse het ek daaruit gehaal:

  • Die mens is geskep met selfvertroue, maar in ons gebroke werklikheid word dit ondermyn deur aangeleerde en oorgedraagde vrees en twyfel. Dis dinge wat ons na die die Here toe moet vat en bevryding voor nodig het,
  • Die oplossing is om nie op die seer en mislukkings van die verlede of die moontlike slegte gevolge in die toekoms te fokus nie, maar die beste te maak van die hede. Dis soos ‘n rotsklimmer wat nie af of op moet kyk nie, maar moet fokus hier waar hy nou klim.
  • Selfvertroue is ook nie iets wat jy moet aanleer, bou, doen en bykry nie, maar iets wat jy moet vrylaat en moet wees.
  • Interessant dat bevind is dat “confidence” nie noodwendig die voorwaarde vir sukses is nie – meeste mense wat sukses bereik het, het dit gedoen in areas waarin hulle op daardie stadium nie eintlik “confidence” gehad het nie. Dis nogal bevrydend en hoopgewend. Erken dus jou vrese en twyfels, bestuur dit en gaan voort om te doen wat jy moet.

In geestelike taal: mag jy met boldness leef in die outoriteit wat die Here vir jou gegee het! En vrees en twyfel op hulle herrie gee!

Ons Here is werklik en by ons betrokke – ook daar in die werk- en markplek waar ons soms groot krissise beleef. Die laaste tyd het ek weer wonderlike dinge met my markplekbediening beleef. ‘n Briljante besigheidsman het in ‘n reeks coaching-sessies die Here Jesus aangeneem en op ‘n ontdekkingsreis gegaan om Jesus in elke fasset van sy lewe te leer ken, ook in sy hantering van spanning en afhandeling van traumas in sy verlede. Daar was ook krisis- en vrede-maak-sessies waarin ek strydende partye kon help om mekaar beter te verstaan en te vergewe. Een voorbeeld was tussen ‘n werkgewer en haar werknemer na laasgenoemde afgedank is; en die ander geval toe ‘n besigheidseienaar deur sy een bestuurder teen die mure uitgedryf is. By ‘n ander groep kon ek vir ‘n persoon oor ‘n krisis rondom finansies bid en binne ‘n paar uur hoor hoe die Here ingegryp het en uit die bloute miljoene rande se transaksies ontsluit het. By nog ‘n ander maatskappy waar ek die professionele span elke tweede week sien, het mense se maskers geval en hulle oor diep sake begin saam praat en bid en selfs huil. Die markplek / werkplek is honger vir bediening… Bid asb vir my roeping hierin – vir oop deure en harte, maar ook wysheid en strategie.

Ek is besig om ‘n ander gemeente hier in ons dorp deur ‘n strategiese proses van vernuwing en groei te fasiliteer. Die Here het in die proses nuwe hoop, kreatiewe groei-idees, moed en lewe kom oopbreek. Dis asof lig in donker begin skyn het, en water in ‘n woestyn begin vloei het. Vir myself is dié skakeling ‘n geestelike reis, en op persoonlike vlak is dit so lekker om hulle liefde en waardering te ervaar. Iets in myself het ook opgebreek – iets wat lank dormant was, veral die noue skakeling met ‘n leierspan wat iewers heen op pad is vir die koninkryk. Ek het belowe om hulle verder in 2011 met die implementering te help tot ten minste Juniemaand.

Mag die Here in 2011 ‘n realitiet in elke fasset van jou lewe wees!

Share