Die Lente is hier! So het my eie (Lente)verjaardag ook gekom en gegaan. Ja, sedert my laaste epos is ek ‘n jaar ouer (vanaf Sondag), ‘n volle 48 jaar jonk. En ek dank die Here vir gesondheid, fiksheid, energie, en drome…. Vriende van ons soos Patricia en Peter wat beide goed oor die 60 is en soos Kaleb in die Bybel voluit leef en bedien asof hulle 30 is, en mense soos Dr Louis Kroon (81), Mandela, Tutu en Mick Jagger (Rolling Stones) stel vir my ‘n standaard. Ons moet beplan om met ons lewens ver ander kant 80 nog aktief ‘n verskil te maak. In die Here se koninkryksplan is daar mos nie ‘n aftreeplan ingebou nie. En dis snaaks hoe gou mense “oud” word as hulle dink hulle is oud. Kom ons gee ons alles tot die laaste asem op aarde, waarna die beste voorlê!
Op ‘n ander noot: ek het die laaste tyd opnuut opnuut besef: planeet Aarde is ‘n gebroke werklikheid… maar ons het ‘n lewende God om in te glo! Vriende van ons se dogtertjie is die afgelope maand met ‘n gewas op die brein gediagnoseer; ‘n vriendin is Maandag geskei, ‘n paar mense na aan ons het hul ouers verloor, en ons seun Ruan se motorfiets is gesteel terwyl hulle ‘n gebedbyeenkoms by die skool hou. En ons almal weet van goed wat breek, siektes en kwale, onreg, terugslae ens…
In Engels is daar ‘n woord wat moeilik in Afrikaans vertaal word: “resiliency” – ‘n soort terugbons-aksie wanneer die terugslae oor jou kom, om na ‘n terleurstelling of terugslag op te staan en met mening terug te spring en jou alles te gee. Dis meer as “vasbyt”, … dis soos om as jy in ‘n rugbywedstryd halftyd 20 punte agter is, en teen al die verwagtinge in terugkom om die wedstryd te wen. Die Bybelse “meer as oorwinnaar” wees (Rom 8:37) is iets daarvan. Die grootste terugbons-aksie sien ons in Jesus wat na sy kruisdood opstaan en die dood oorwin om ons Verlosser te wees. En ons sien dit by die eerste Christene bv in Hand 4:23-31 – toe hulle vervolg word, bid hulle nie dat die vervolging moet ophou nie, maar dat hulle kan krag kry om met meer guts en wonderwerke aan te kan gaan om te getuig. En dan gebeur dit: die plek skud, die Heilige Gees vervul hulle opnuut en hulle kry vrymoedigheid om met mening die evangelie te verkondig en wonderwerke te doen, en hulle geloofsgemeenskap is radikaal anders, eensgesindheid, mededeelsaamheid, liefde (4:32-37). Soos iemand sê: dis ‘n “earthquake” maar eintlik ‘n “heartquake”, want húlle word self verander, nie soseer hulle omstandighede nie. Terugslae is dikwels die plek waar God intens ervaar word en groot groei en vernuwing plaasvind.
Ek glo ons het meer van hierdie terugbons-gesindheid nodig – of dit nou in jou werk en loopbaan, huwelik en gesin, gesondheid, of geestelike lewe is. Die terugbons begin in jou hart en kop, by jou fokus want ons verloor dit so maklik veral as ons moedeloos of angstig raak. Onthou: “where your attention goes, you go” – fokus doelbewus op die Here en Wie Hy is en wat Hy nou van jou vra. En dan verder is die pad een van doelbewuste vertroue, nuut en kreatief dink, opoffering en deursettingsvermoë, deurdruk en deurvoer … en saam met die Here ander kant uitkom. Dis die moeite werd want so bly jy op die pad wat die Here vir jou beplan het.
Die vriend (waarvan ek hierbo gepraat het) se dogtertjie se breingewas is toe nie kwaadaardig nie en kon volledig verwyder word. Die terugslag het klomp mense om hulle laat opstaan om te bid en prakties te ondersteun. Drie weke terug het ons by hulle kerk ‘n gebedsbyeenkoms gehou. Nou na al die goeie nuus, hou ons môre-aand ‘n lof- en dankbyeenkoms. Soveel van ons se geloof is hierdeur versterk. Die Here laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28), selfs al is die pad nie die een wat ons sou kies nie.
Ek is besig om my markplekbediening al sterker te vestig. ‘n Naam wat al sterker by my posvat is “Grace2Grow”. Bid asb vir my hiervoor, veral vir sy leiding, meer oop deure en geleenthede. En ook vir finansies.