Baie van die mense met wie ek werk, sukkel, soos ek, soms om uit te figure “waarheen nou?” Maar ‘n teks soos Spr 4:18 gee so bietjie lig: “Die pad van die regverdiges is soos die helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal lig is”. (Lees ook Spr 4:23 dat jou hart jou lewe bepaal). Dus soms moet jy, met die regte beginsels en hartsgesindheid, volgens jou beste oordeel nou net die volgende regte treë gee en soos jy aangaan, word die pad al duideliker. Die laaste tyd is ek opnuut bewus van die volgende:
- Die Here is oraloor besig om te werk en te beweeg, en Hy nooi ons om deel te wees van dit wat Hy doen.
- Om maksimaal volgens jou potensiaal te lewe moet jy met wat jy is en het – jou hele self – vir die Here gee en tot sy beskikking stel.
- Elkeen van ons is uniek ontwerp – jou “unique divine design” (Ps 139:13-16) – met ‘n unieke kombinasie van talente, gawes, vermoëns, passies, ervarings en persoonlikheid. Weet en wees wie jy is. En gee ruimte vir ander se unieke menswees ook.
- Oppas om nie deur ander in hulle drome opgeslurp te word nie – wees getrou aan dit wat die Here jou gemaak het.
- Baie van ons ervaar tye van frustrasie, teleurstellings en stagnasie in ons lewe en werk (soos Josua wat 40 jaar dieselfde job as die Moses se assistent moes wees, Josef wat vergete in die tronk moes bly). En baie van ons verloor of bedank ons werk (soos Dawid wat gefire is as koning toe Absalon hom ontroon het). Maar as jy jou oë op die Here bly hou, nie bitter of kwaad bly nie, en Hom bly vertrou, gebruik Hy al jou ervarings in sy groot plan en laat Hy alles te goede meewerk, al sien jy dit nie nou nie.
- Rigting is belangriker as intensies en drome – jy kan nie van die Kaap af op die N2-Wes by Johannesburg uitkom nie, al bid jy hoe baie en is jou intensies hoe goed. Goeie intensies en drome maak jou nie suksesvol nie, jy moet op die regte pad/rigting kies en doen wat nodig is (Spr 4:26-27; 7:27). Bv. dit help nie om te droom oor ‘n mooi huwelik nie, maar dan aanmekaar goed doen wat die ander een seermaak, nooit tuis wees nie, seksueel verneuk, en nie bou aan jou huwelik nie. Óf dit help nie om ‘n beter werk te wil hê, maar in jou huidige werk maak jy droog, en jy doen niks om ‘n beter of ander loopbaan te ontwikkel nie – jy moet op die regte pad kom en dit aanhou loop.
My werk as Markplek-predikant lewer wonderlike ervarings. Kom ek vertel van een voorbeeld (en ek vertel dit met hulle toestemming): Ek is betrokke by ‘n besigheid se 2 vennote, beide kerkloos – so ietsie van ‘n kleingroep-Bybelstudiegroep en “coaching”. Veral vir die een vennoot was die Here ver en onwerklik, maar oor die laaste paar maande kon ek in ons sessies sien hoe sy geloof in die Here groei en die dinge in sy hart en kop reg skuif. Laas Saterdag het ek op hulle versoek saam met hulle naaste familie (so 20 mense) die baba-seuntjie aan die Here toegewy by ‘n bistro op ‘n wynplaas. Dit was ‘n intieme en persoonlike ervaring en ‘n geleentheid om mense, wat jy nie sommer in die kerk sou kry nie, met die evangelie te bedien. Dit was so ‘n diep geestelike en ‘heilige’ belewenis en het impaak op heelwat mense gemaak. Sommiges was selfs so aangedaan dat hulle moes trane afvee.
Dit val my deesdae op dat al hoe meer Christene buite die kerk (georganiseerde plaaslike gemeente) is. Die kerk het vir hulle irrelevant geword. Baie van die mense wat ek bedien, val in hierdie kategorie. Dis aan die een kant regtig hartseer, en tog dink ek die Here se Kerk (hoofletter K) is besig om ‘n opwindende transformasie deur te gaan: minder gebou- en struktuur-georiënteerd, minder afhanklik van ‘n dominee of expert wat jou moet bedien terwyl jy passief wag om te ontvang, minder net kerk doen en net kerk toe gaan, en meer kerk wees; en meer ‘n lewe in verhoudinge tussen Christene wat mekaar organies en spontaan op die strate, by mekaar se huise en coffee shops, en veral by die werk ondersteun en opbou en verder saambid en dien, en so 24 uur 7 dae kerk kan wees. Daar word verwag dat in 2020 meer as die helfte van Christene nie meer in formele plaaslike gemeentes ingeskakel sal wees nie, maar steeds die Here sal liefhê en deel sal bly van sy wêreldwye Kerk. Maar die verwagting en hoop is ook dat plaaslike gemeentes wat wil leef en groei sal aanpas om al meer hulle lidmate te bemagtig om elke dag oral vir Hom te lewe; om meer ‘n organisme te wees wat as Christus se liggaam organies lewe in plaas van alles te organiseer en te programmeer.
Twee boeke het my nogal gehelp om die rol van die kerk te verstaan: (1) Revolution – George Barna; en (2) Pagan Christianity – Frank Viola en George Barna. Kry dit gerus – dis goed nagevors, statisties en empiries sowel as teologies (al is dit plek-plek kontroversieel). Ek besef daaruit dat die eerste 300 jaar was daar nie geboue, voltydse gemeente-predikante nie; die Christene het by mekaar se huise beymekaargekom, almal het deelgeneem en met hulle gawes bedien, die Heilige Gees het kragtig gewerk, en die evangelie het soos ‘n veldbrand versprei. Toe keiser Konstantyn (in 320nC) begin om die Christendom te vestig deur geboue, ampte en rituele, is iets van die amp van gelowige en die lewensveranderende krag van die evangelie tragies aan bande gelê!
Ons gaan interessante tye tegemoet. Mag ons dit doen met ‘n Bybelse bril en nie met tradisionele kortsigtigheid vashou aan die verlede nie. En mag ons kyk na nuwe maniere om die evangelie effektief te bedien en Christene te help om te groei en om voluit vir Christus te lewe.
Bid gerus vir my met al die verwikkelinge. Mag jy die Here se vreugde ervaar en in sy krag oral en heeltyd vir Hom lewe.