Ek dink meeste regdenkende mense wat na vandag se soort gemeente-wees en kerk-wees kyk, weet dat jy weet: iets is iewers fout. Iewers kom dit wat jy in die Bybel lees, nie mooi uit wat jy in praktyk van die kerk ervaar nie. Soms lyk dit so irrelevant dat jy nie eers bodder om daarvan deel te wil wees nie.
Iemand het eendag gesê: die kerk is soos ‘n afvlerkvoël. Die vlerk wat werk, is ‘n klompie leiers, betrokkenes en geestelikes. Die ander vlerk is die “gewone” lidmate wat elke dag op die markpleine leef en werk – dié vlerk sukkel om te werk. Daarom vlieg en vladder die kerk al in die ronde, sonder enige impak in die wêreld!
Kyk gerus na die bekende Hand 2:36-47 oor die eerste Christelike gemeente. Dit wat jy daar lees, is so radikaal anders as dit wat jy vandag ervaar. Ek kon ten minste 15 eienskappe onderskei wat in daardie gemeente sterk gefeauture het:
- Elke lidmaat is persoonlik aan Jesus Christus verbind deur radikale bekering (2:36, 38,40-41).
- Almal was vervul met die Heilige Gees en het in die kragveld van die Gees gelewe (2:38, 4:31).
- Saam het hulle volhard in hulle geloofslewe en hulle heelhartig daarop toegelê (2:42).
- Hulle het volhard in die Bybelse leer – die leer van die apostels (2:42).
- Gebed het ‘n bepalende rol gespeel ( 2:42, kyk 1:41, 4:24).
- Onderlinge verbondenheid of koinonia (2:42, 44-46).
- Liefdesmaaltye gekombineer met Nagmaal (2:42, 44-46).
- Navolgenswaardige leierskap (2:43).
- Tekens en wonders (2:43)
- ‘n Heerlike eensgesindheid en praktiese omgeeliefde deur almal (2:45; 4:32-34).
- Gereelde grootgroep-byeenkomste by die tempel (2:46).
- Al die lidmate het met mekaar saamgeleef in Kleingroep-byeenkomste (2:46).
- In eenvoud en blydskap saam geëet en God geprys (2:46-47).
- Weens hulle leefstyl het hulle ‘n goeie naam na buite gehad (2:47).
- Dinamiese getallegroei (2:47).
Nou wat is fout met vandag se kerk? Hoekom kom ons nie daarby uit nie?!
Die eerste rede is mynsens so duidelik: ons beleef dikwels nie meer die basics nie – dis asof God soms net missing is in die kerk, asof ons te besig is met klomp godsdienstige aksies en geestelike ervarings maar eintlik God mis! Ware Christenwees gaan gaan tog eerstens daaroor dat ons net nader en nader aan God Drieënig groei:
- ‘n lewende persoonlike verhouding met Jesus Christus elke dag oral, 24/7, waar jy ookal is;
- en om in die kragveld van God se Gees dinamies te lewe;
- en om regtig God as jou Pappa te beleef.
Ek dink die kerk is te besig met sideshows. Ons is te besig met die dinge van die Here, terwyl ons die Here van die dinge mis. En meeste van ons is gewoonlik so besig dat die Here se lewende leiding en stem eers moet wag. Ons doen dinge vir die Here, maar weet bokkorôl van ‘n lewe met die Here! Maar dis nou genoeg koeëls geskiet. Kom ons raak positief.
Jy kan nie nuwe wyn in ou wynsakke gooi nie, sê Jesus. Met ander woorde, as ons ‘n kerk wil sien met die lewe van God in haar, sal ons nuut moet dink oor hoe ons as kerk leef en doen. Anders, as daar sou lewe kom, gaan jy meer as net lewende geestelik wyn sien spat en mors…!
Heel voor in jou Bybel, lees jy in Gen 2:18 “God het gesê:’dit is nie goed dat die mens alleen is nie’”. God het nooit bedoel dat jy as mens met jou lewetjie iewers op jou eie moet aankaarring. Life is meant to be done together. Die lewe is nie ‘n solo-vlug nie!
Die tipiese gelowige in die Ou-Testament het sy geloof so beleef: ek is deel van die groot verbondsvolk Israel; in Israel is ek deel van een van die 12 stamme, in die stam behoort ek aan ‘n bepaalde familiegroep; en in die familiegroep het ek my eie huisgroep – pa, ma, kinders en slawe en ander mense vir wie ons sorg. In die huisgroep het ons sabbat gehou, pasga gevier, en as gesin feeste toe gegaan en so aan. M.a.w.: ek is ‘n gelowige saam met my medegelowiges, veral my huisgroep of gesin.
Toe kom die Nuwe Testament. Jesus het baie in mense se huise gekom. En aan die begin van sy bediening roep Hy 12 dissipels om by Hom te wees, saam met Hom te lewe en by Hom te leer – hulle het saam geëet, gestap, geleef, gepreek en bedien sodat iets van sy lewe kon afvryf op hulle.
Voor sy hemelvaart sê Jesus in Matt 28:18-20 dat sy volgelinge moet gaan dissipels maak van alle nasies – dis die missie. Maar as Jesus dissipels gemaak en gementor het in die konteks van ‘n kleingroep van 12, moet ons nie maar iets by Hom daarvan leer nie? En as Hy vir sy dissipels sê dat Hy hulle vissers van mense sal maak, het Hy gepraat van mense wat saam ‘n net vashou, dit uitgooi en intrek – mense wat saam werk om God se werk te doen.
Ons lees in Handelinge 2 hoe na die uitstorting van die Heilige Gees, 3000 mense by kerk bygevoeg is. Die ouens het nie geworry oor: waar gaan ons ‘n groot genoeg ouditorium bou om almal te huisves nie. Nee, die Heilige Gees het hulle só gelei dat hulle mekaar daar by die tempel gekry het en elke dag mekaar in mekaar se huise ontmoet het. Daar kon hulle alles met mekaar deel en in mekaar se lewens inbou. Verhoudinge was ‘n top-prioriteit en net meer en meer mense is bygevoeg. Naas die grootgroep, ook die kleingroep.
In 70n.C. is die tempel verwoes. Die eerste gemeentes, soos die in Rome, Efese, Kolosse ens. was huisgemeentetjies (Filemon :2; Kol 4:15).
As jong dominee destyds het ek myself blou gepreek: julle moet mekaar liefhê, dra mekaar se laste, help mekaar, verman mekaar, dien mekaar en al daai baie “mekaar” tekste. Maar niks wou werk nie. Toe ontdek ek dat vir die eerste 3 eeue het die Christelike kerk meestal in huise bymekaargekom. Opgrawings het dit bevestig. As die huis te klein word, het hulle soms die binnemure platgeslaan of het hulle in twee gedeel.
Those were the days … Jy sien daar in die huisgroep kon hulle al die dinge doen. Die gawes van die Gees kon werk en hulle hoef nie bang te gewees het dat dit die “diens” sou onderbreek of ontstig nie, want hulle is mekaar se familie. Hulle kon mekaar regtig ken en mekaar se laste dra. Dit was beslis nie ‘n glorified Bybelstudiegroep of kuiergroepie wat bymekaarkom en weer verdaag nie.
Ek glo die Here roep sy kerk weer terug na die basics van gemeentewees.
In 380 nC het die Christelike godsdiens staatsgodsdiens van die Romeinse ryk geword. Massas mense is feitlik met die swaard gedwing om Christene te word. Die staat het kerkamptenare aangestel en tot vandag toe sukkel ons daarmee:
- deelnemende Christene … word passiewe toeskouers
- mense wat moet dien met hulle gawes … word onderganers van seremonies
- in plaas van saam kuier … sit almal in rye, kyk teen mekaar se agterkoppe vas
- in plaas van met mekaar saam te leef … word ons verhoudinge onbetrokke en vaag
- interaktiewe kommunikasie … word eenrigting
- in plaas daarvan dat kerk die mense is … word kerke gesien en beleef as geboue
- erediens wat 24 uur 7 dae ‘n week moet gebeur … word verskraal tot 1-2 ure per week.
Ek glo die Here roep ons terug om nuut te dink oor gemeentewees:
- dit gebeur in verhoudinge – veral daar waar ons in kleingroepe en op ander maniere met mekaar saamlewe.
- Dit gebeur 24 uur 7 dae ‘n week, elke dag oral.
- En jy word bemagtig om jou rol te begin speel, om saam met die res van die Here se kerk op te staan om gereken te word.
Wat is die pad vorentoe? Ek weet nie, maar ek challenge Christene vandag om vars te dink oor kerkwees. En om opnuut jou commitment teenoor die Here en sy kerk te maak – ek bedoel nie allereers tot die plaaslike gemeente waarin jy is nie – dit beslis ook, maar veral tot die liggaam van Jesus Christus. En dan soek ons saam die pad…
So gaan die kerk weer ‘n tweevlerkvoël word met twee sterk vlerke – (1) die leiers én (2) die lidmate wat saam sterk funksioneer en opstyg en die wêreld positief omkeer!