Julie 2010

Mag jy hier in die koue tyd van die jaar iets van die Here se warmte en koestering ervaar.

Die afgelope tyd was behoorlik vir ons land vol genadevolle hoogtepunte. Dit was wonderlik om te sien hoe swart en wit saamstaan om mense van regoor die wêreld te ontvang en ‘n wêreldklas toernooi aan te bied met slegs minimale voorvalle, asook ‘n groot afname in misdaad en bedrog, en dat mense-handel (human trafficking) teen verwagting grootliks gestop of verminder is. Dit was inderdaad ook die gevolg van baie gebede, asook goeie bestuur en organisasie. Die volgende staan vir my uit as positiewe gevolge:

  • Daar is ‘n nuwe en gesonde optimisme en landstrots onder Suid-Afrikaners wat energie gee vir positiewe aksie – kom ons benut dit, ook vir God se koninkryk!
  • Die wêreld kyk met nuwe oë na ons en het vertroue gekry in ons as land. Suid-Afrikaners was met sukses in die wêreld se kollig en selfs die Amerikaanse president het, saam met duisende ander, sy positiewe vertroue in Suid-Afrika se vermoëns uitgespreek. (Was dit nie lekker om te ervaar dat ons land so veilig en effektief funksioneer nie!)
  • Dit alles gee ook aan Suid-Afrikaners ‘n nuwe selfbeeld en vrymoedigheid om vorentoe nog uitdagings aan te vat en wêreldklas prestasies op meer terreine te lewer. ‘n “Can do” mentaliteit.
  • Brûe is gebou en nuwe deure is oopgemaak. Mag ons dit sien en benut.
  • Baie goeie saad is gesaai om die koninkryk te bevorder in hierdie tyd. Mag die saad opkom en baie vrug dra. Vir my was een van die treffendste ervarings: ‘n persoonlike getuienis tydens ‘n middagete-funksie waar die Nieu-seelandse doelskieter, Rory Fallen, getuig het dat om Jesus te ken veel beter is as om die wêreldbeker te wen.

Die laaste 6 weke was vir my ‘n vrugbare tyd. Ek het vir sowat 50 leiers in die besigheidswêreld werkswinkels gefasiliteer om hulle toe te rus met vaardighede in sake soos selfbestuur, probleem-oplossing en besluitneming, asook span-leierskap en leierskapstyle. By 2 maatskappye kon ek ook help met spanprosesse en leierskap-ontwikkeling. Wat ‘n genade om in die proses koninkrykswaardes te kon vestig onder mense waarvan sommiges nog ver van die Here af is.

Op bedieningsvlak is die Crown Markplek Instituut (CMI) mooi aan die gang om Christene te mobiliseer en toe te rus om daar waar hulle hul meeste wakker-ure spandeer as die Here se ambassadeurs ‘n verskil vir sy koninkryk te maak. Ek is besig met netwerkbou met kerke en kerkleiers om hulle te help om Christene vir hul markplek-roeping toe te rus en te ondersteun – dis vol uitdagings en ons soek nog na die beste benadering. My mentorskap en coaching gee ook vir my groot vreugde, veral om groei, genesing en deurbrake te sien. Dis veral onder professionele mense en op Christelike basis. Die proses is uit en uit oplossings-gerig om mense uit groewe en teenproduktiewe gedragspatrone te begelei na groter effektiwiteit en geluk, self-insig en bestuur te bevorder, groeipotensiaal te ontsluit en groei na doelgerigte uitkomste te monitor en te stimuleer. My doel is om elkeen te help om hulself met hul Godgegewe skeppingsdoel te belyn in al hulle lewensareas.

My kollega in Crown Markplek Instituut, Mario Denton, was die week in Malawië met ‘n Character First program oor moraliteit en waardes. Hy het reeds die proses suksesvol in instansies in Nigerië en Namibië aangebied, asook plaaslik in SA by stadsrade, polisie en hospitale. Bid asb vir hierdie saak want Afrika, en in besonder ook Suid-Afrika, het op hierdie terrein ‘n herlewing en transformasie so nodig.

Ek het onlangs oor Eks 17:8-16 gepreek wat bekend is vir hoe Aaron en Hur Moses se arms hoog gehou het, en Moses na die oorwinning gesê het “die Here is my banier van oorwinning“. Mag ons gelowig met ‘n oorwinnings-mentaliteit lewe en alle vorme van slagoffer-mentaliteit afskud. Kom ons hou ook in die proses mekaar se arms omhoog, veral wanneer ons moeg word om te bly stry, bid en vertrou. Lees hieronder na die epos-brief die 7 hoofpunte van my preek as riglyne vir so ‘n oorwinningslewe.

Bid asb vir my vir wysheid, veral om maniere en mense te kry om die markplekbediening te help befonds, en om goeie besluite te neem oor sake soos fokus, wie om mee hande te vat en oor elke tree vorentoe. Dit was nogal ‘n denkskuif om mense te nader om my bediening finansieel te ondersteun. Stadig maar seker begin dit te realiseer en ek vertrou die Here vir al meer deure om oop te gaan. En daar is klomp verwikkelinge wat my inderdaad baie opgewonde en hoopvol maak.

Op tuisfront gaan dit goed. Mariëtte was gedurende die wêreldbeker aan die herstel na ‘n histerektomie op 3 Junie, en is nou al vinnig op pad om weer sterk aan te kan gaan. Sy is van volgende week af weer baie betrokke by ‘n Choices-program vir graad 7’s by 2 skole (3 klasse) om hulle te help om gesonde seksuele keuses te maak. Ons eie kinders het die wêreldbeker baie geniet en het van die jolkolle (fan festivals) bygewoon. Hanno was 2 en ‘n half weke daarvan in Cloetesville en betrokke by ‘n uitreik om verwaarloosde kinders in daardie arm gemeenskap te bedien met vriendskap, spel en die evangelie.

‘n Goeie vriendin van ons is in Maart met terminale kanker gediagnoseer. Sy is ‘n weduwee met 2 skoolgaande kinders. Haar getuienis is een van hoop, nie net op Goddelike genesing nie (waarvan daar reeds soveel aanduidings is), maar bo alles dat dit vir haar in lewe en sterwe gaan om Christus te verheerlik. Sy sien uit daarna om hemel toe te gaan, maar ervaar sterk dis nog nie haar tyd nie. ‘n Mens staan soms so verstom oor wat God doen as Hy só in mense sigbaar word. Maar dan besef jy: Hy is God en Hy lewe regtig! Interessant dat soveel mense haar nie kans gee op lewe nie (sy het mos die groot “K”), en hoe hard sy nie net teen die siekte nie, maar veral teen die ongeloof en pessimisme van mense moet stry. Mag ons te midde van ons gebroke realiteite mense van geloof en hoop wees, mense wat glo en “lewe” spreek en niemand afskryf óf in ons koppe en harte voor hulle tyd begrawe nie!

Hiermee groet ek. Mag jy die verskil maak waarvoor God jou bestem en toegerus het! Hy is saam met jou…

Liefde en voorspoed
Johann Oostenbrink
082 450 3873

Eks 17:8-16 Jahwe Nissi – Die Here is my banier van oorwinning.

  1. Maak vrede met die Amalekiete (probleme en terugslae) in jou lewe, want jy lewe nog op planeet aarde – “stuff happens”.
  2. Bemagtig ander (kinders, medegelowiges, kollegas) om saam met jou te staan.
  3. Besef die krag van intersessie – mense wat vir jou intree by God wat die oorwinning gee.
  4. Help leiers en ander rolspelers as hulle moeg word – hou hulle arms omhoog (ipv om te kla en te kritiseer).
  5. Volhard in die stryd, al is daar tye wat jy verloor.
  6. Vier fees oor oorwinnings – waai die banier, want “ons is meer as oorwinnaars” (Rom 8:37-39).
  7. Onthou: die finale oorwinning kom beslis – die Ruiter op die wit perd is in aantog (Opb 19:11-21).
Share