Met 10 maande van die jaar agter ons, is ons nou in die peilvak op pad na hierdie jaar se einde toe. Mag die jaar vir jou op ‘n hoogtepunt eindig! Mag jy ook die Vader se liefde en nabyheid bly ervaar, en vanuit ‘n verhouding met Hom oorwinnend te bly lewe.
Ek gesels gister met twee fantastiese mense. Hulle voel net nie so ‘fantasties’ nie, want die jaar het sy tol geëis – in hulle besigheid met die uitdagings van die resessie en personeel, in die gesin (met twee adolessente-seuns wat deur storms gaan), en die gewone stryd van elke dag. Hulle erken: ‘ons is moeg’. Hulle energievlakke is selfs te laag om aan ‘n vakansie te beplan, want dit vat al die energie om net te oorleef. Laasweek het die man een dag vroeg opgestaan, ontbyt geëet en reggemaak om werk toe te gaan, toe sy vrou hom daaraan herinner het dis eintlik Sondag …
Baie van ons se energie-tenks hardloop op “reserwe” of “amper leeg” en dis hoekom mens jouself nou moet goed bestuur, en gewoonlik nie nou sommer groot besluite moet neem nie; hoekom jy tydjies van rus, genot en perspektief kry, moet koester; hoekom jy moet vasbyt om die wedloop saam met die Here suksesvol klaar te maak; maar dis ook hoekom jy moet kop oplig en die mooi om jou waardeer om als met lekkerkry klaar te kry.
Onlangs het ek ‘n lesing oor geestelike vernuwing gehoor. Dr Tim Keller het die Gelykenis van die Verlore seun, of te wel die “Gelykenins van die liefdevolle vader en die twee verlore seuns” (Luk 10) geneem. Die jongste seun het meer oor sy erfporsie en geld gedink as sy Pa en is so vort met sy erfporsie – tot hy als uitgemors het en nederig terug is na die Pa toe om maar net by sy Pa te kan wees. Die oudste seun het gedink hy is geregtig op spesiale behandeling want hy het altyd so hard gewerk. Hy het veronreg gevoel toe die jongste seun met ope arms terug ontvang is. Soms is ons soos die jongste seun, maar meeste van ons ervaar die oudste seun se sindroom van tyd tot tyd. Jy meet jou waarde aan wat jy doen (uiterlik), en dan mis jy die Vaderhart en sy liefde vir jou (innerlik). Jy raak krities op ander (en jouself), en kan ander se kritiek op jou gedrag nie hanteer nie, want dan word jou selfwaarde aangetas. Jy sukkel om blymoedig jou verhouding met jou Pa te geniet want jy moet so baie dinge doen om Hom te “please”. Jy is oukei oor die nuwelinge in die kerk, maar voel darem jy’s effens beter omdat jy lankal ‘n Christen is. Jy sukkel om soos ons Pa te voel oor die verlorenes en teruggekeerdes… Gelukkig was daar toe in die volle verhaal ‘n oudste Seun, ons Here Jesus, wat uit liefde vir sy Pa, nie net sy erfporsie met ons deel nie, maar bereid was om te ly en te sterf sodat ons saam met Hom kinders van ons Pa kan wees! Geestelike vernuwing begin by belydenis oor jou hart, ‘n hart- en denkvernuwing (metanoia) en terugkeer na die Vaderhart en sy onvoorwaardelike liefde en genade, ‘n liefdesverhouding met Hom van lewe saam met Hom … sodat jy sy hart in joune kan voel klop.
Ek moes bely: “Vader, ek probeer nog ‘goed genoeg’ vir U wees, en soms om U en ander te beindruk. Dankie dat ek by U kan wees, en goed genoeg is. Ek kies om vanuit U Vaderhart te lewe – eers deur net te wees, U kind te wees; en dan om te doen volgens U hart, nie om iets te kry of te word of ‘n “legacy” na te laat nie, maar omdat ek U geliefde kind is en so baie ontvang het en wil dankie sê omdat ek nie anders kan nie …”.
Die afgelope tyd het ek ook opnuut bewus geraak van die feit dat Jesus veel meer as net die “evangelie van Verlossing” verkondig het. Hy het veral die “evangelie van die Koninkryk” gebring. ‘n Groot deel van sy bediening was om mense te help om in die hier en nou God se koningskap te ervaar (bv deur sy wonderwerke en genesings). Deur sy boodskappe het Hy hulle geleer hoe om onder God se Koningskap volgens sy koninkryksbeginsels te leef. So “kom” God se koninkryk nou reeds. Jesus het ons kom bevry om vir altyd so in sy koninkryk te lewe, in die krag van sy Gees, in ‘n vertrouensverhouding met die Vader. Wanneer Jesus weer kom, kom God se Koninkryk in sy volheid.
Prakties het dit weer vir my klomp dinge oopgebreek:
- Die koninkryk van die Here omvat alles in jou lewe: werk, kerk, politiek, seksualiteit, huwelik en gesin, jou geldsake en besittings, gesondheid, sport, skool ens.
- Die skeiding tussen kerk en wêreld, sekulêr en heilig is nie Bybels nie. Alles behoort aan Hom.
- Om jou Bybel te lees en bid of kerk toe te gaan, is dus nie meer heilig en belangriker as om jou begroting uit te werk, met jou kind te speel, jou gras te sny, skottelgoed te was, ‘n verslag te skryf, vergadering te hou, iemand aan te stel of af te dank, of jou motor te bestuur nie.
- ‘n Prokureur, skoonmaker, verpleegster, sekretaresse, sakeman of huisvrou se werk is nie “minder heilig” of minder van ‘n roeping as ‘n voltydse predikant s’n nie. Ons as Christene is almal voltyds geroep tot voltydse bediening – nie net om die evangelie te verkondig nie (dit ook), maar veral om dit te leef en met jou hele hart voluit jou werk vir Hom te doen! (Kyk ook na die aangehegte dokument as jy meer wil lees hieroor.)
- In hierdie wêreld met al sy korrupsie, is dit belangrik dat ons in die werkplek, huis, gemeenskap volgens die Here se Koninkryksbeginsels eties sal lewe – om die regte dinge reg te doen.
- Party ouens wil by die werk hulle roeping uitleef deur gebedsbyeenskomte of Bybelstudiegroepe te hou (goed en wel), maar na die byeenkoms is dit “back to business”. Die kuns is eerder om heeltyd, oral, by almal as geroepene en gestuurde te lewe as ambassadeur van die koninkryk.
- Ons mense het ondersteuning en toerusting nodig om só in die werkplek transformerend as lig en sout te lewe.
Ek het laas vertel van my oorwegings om (deeltyds of dalk voltyds) terug te gaan “bediening” toe, bedoelende kerk-bediening, veral omdat ek soms ‘n sterk behoefte ervaar aan ‘n “basis” of platvorm, ‘n span en ‘n ondersteuningsisteem, en ook groter sekuriteit. Die denke hierbo en insig in my roeping en gawes het my weer laat besin oor wat die bediening anders moet wees as wat ek tans doen. Dis vir my ‘n voorreg om in die markplek (werk- en leefplek) mense deur groei- en transformasieprosesse te neem en daar my lig te laat skyn – direk en indirek. Mense kom ook uit die markplek na my toe vir berading, raad, ‘life coaching’ en mentorskap, ek is deel van 2 besigheidsgroepe en lei ‘n ander een waar ons saam besin en bid oor elke dag se lewens vir ons Here. En dan kan ek as lidmaat in ons gemeente en strategiese groeikonsultant vir ander gemeentes van diens wees, en soms ook preek. Aan die begin van laasmaand kon ek 2 paartjies na maandelange begeleiding en voorbereiding (beide het ‘n moeilike pad geloop), in die huwelik bevestig. Ek sien myself al meer as ‘n markplek-bedienaar (markplek-dominee) wat, saam met ander markplek-bedienaars (soos jy), my rol vervul met my gawes. Maar ek sien myself veral ook as katalisator vir markplek-transformasie sodat Christene en maatskappye toegerus en ondersteun kan word om hulle koninkryksroeping voluit kan vervul. So, ek dink ek is op ‘n interessante reis saam met die Here – wat ‘n genade!
By die huis het ons ons seëninge en uitdagings. Mariëtte het ‘n aflospos by die hoërskool, maar was vir amper 2 weke stemloos met laringitis – nogal ‘n tameletjie as jou werk van praat afhang. Hanno skryf eksamen (1ste jaar Ingenieurswese) en ons hou duivas en bid vir ‘n beurs vir hom vir volgende jaar. Marli geniet haarself op ‘n uitruilskema in Amsterdam waar sy haar Honneurs klaarmaak. Ruan hardloop rond tussen sport, kitaarlesse, leerderraadsdinge en hordes ander aktiwiteite. Finansieel was/is ons (soos seker baie ander) onder druk en tog ervaar ons ons Vader se sorg op so baie maniere.