Jammer dat ek nou eers weer kontak maak. Dis nogtans lekker om so te kommunikeer. Ek hoop regtig dit gaan goed met jou … al is dit koud en al sê hulle ons is in ‘n resessie. Ten minste wen ons die rugby!
Die ekonomie was (en is) goed vir my geloofslewe – toetsend en vormend. April-maand was in die konsultasie-bedryf ‘n morsdood maand (na die vorige drie maande ook maar sukkel-sukkel aan die gang gekom het). Dit was vir my as broodwinner regtig ‘n stresvolle tyd. Snags het ek soms wakker geword met borspyne en knersende tande. Ek het gevoel wat angs en stres aan mens kan doen. Jy ken mos daai ding van “sê nou maar net” en “sê nou maar net nie…” en al die spoke wat mens opjaag.
In dié tyd het ek ‘n boek gelees van Larry Julian “God is my success – Transforming adversity into your destiny“. Hy wys in die boek baie prakties hoe jy terugslae, bekommernis, gebrek aan selfvertroue en moed, vrees en bekommernis en finansiële uitdagings saam met God kan hanteer. Dan lei hy, die skrywer, jou na ‘n beter definisie van sukses. Wat vir my die meeste beteken was dat jy in alles ‘n balans tussen die volgende twee dinge moet hê:
- The Surrender Posture: Totale oorgawe aan God. Dit is ‘n benadering tot die lewe waar jy regtig alles in God se hande plaas en kies om Hom te vertrou omdat Hy nie net groot en almagtig is nie, maar ook ‘n liefdevolle versorgende Vader en God wat oral en altyd by jou is.
- The Take-Charge Posture: waar jy aktief, onder God se leiding en in sy krag, Hom gehoorsaam en doen wat jy moet.
Dis daai ding van: Glo asof alles van God afhang en werk asof alles van jouself afhang. My probleem het gelê by die eerste deel … wat eintlik die sleutel is tot die tweede deel. Toe ek regtig by die punt kom waar ek beheer oorgee, was my finansiële probleme nie op ‘n einde nie, maar ek self het geestelik en emosioneel by ‘n ander “plek” uitgekom – ‘n veiliger plek waar my emosies en gedagtes vir die Here gee om nuut te maak en by Hom rustig word, en waar ek baie beter en makliker myself kan oopstel op gefokusde en kreatiewe aksie onder die Here se leiding. My borspyne en slaaploosheid het opgeklaar en ek was volgens die gesin skielik ‘n baie aangenamer mens om mee saam te leef.
Einde April is ek, ietwat teësinnig, na die “Mighty Men Conference” toe – ek was grieperig (goeie verskoning) en is nie ‘n ou vir massa-bewegings nie, en (kom ek wees eerlik) ek was bang vir emosionele en fundamentalistiese opswepery. My griep was totaal weg toe ek daar aankom, die konferensie van 120-150 000 kampende mans was uitstekend georganiseer en dit was ‘n ervaring – ten spyte van massa koue storte en long-drops. Die kernboodskap vir my? Eintlik: “back to basics“. Eenvoudig: hê genoeg guts om jou vertroue op God te plaas (dieselfde boodskap as die boek!) en wees mans genoeg om vanuit daardie verhouding met ruggraat te lewe. En jy kry dit veral deur te begin om Jesus Christus in die sentrum van jou lewe te stel en daagliks tyd met God en sy Woord deur te bring.
Uit Angus Buchan het soveel liefde en rustigheid gestraal dat mens regtig iets van God se liefde kon ervaar. As jy krap, sal jy klomp (teologiese en praktiese) goed kry wat nie volmaak was nie, maar die kern, dink ek, was uitstekend. En natuurlik het party mans, soos hulle vrouens dit stel “as buffels gegaan, en toe die emosie af is weer soos buffels opgetree”. En dalk vat party die “man-ding” te ver. Maar daar is baie mans én seuns wat ons ken, wie se lewens werklik diep geraak en vir goed verander is. Ek het versterk en bemoedig teruggekom. (En daar was baie humor ook … soos een van ons kampmaats wat in die middel van die nag vir 4 ure verdwaal het; en nog een wat 3 uur in die oggend verward en deur die slaap sy vrou roep om hom uit die tent te help.)
Toe Mei-maand aanbreek, was die vooruitsigte steeds maar flouerig, maar ons het nugter gekies om te vertrou. En toe gebeur dit: ek ervaar toe die beste Mei-maand in 4 jaar, en kry nog klomp werk in vir Junie en Julie. Ek sien daarin God se voorsiening, getrouheid en liefde!
In hierdie tyd het ek en Mariëtte baie gepraat oor roeping en roepingsvervulling. Op hierdie stadium oorweeg ons weer ‘n pad terug kerklike bediening toe – dis waarskynlik daar en vanuit dit as platvorm waar ek met my gawes die grootste impak kan maak. Ek kyk na ‘n situasie waar ek steeds konsultasiewerk kan doen om mense op te lei en organisasies en spanne deur prosesse van groei en optimalisering kan neem – dit hou my voete op die aarde en is kosbare blootstelling. Maar ook ‘n situasie waar ek meer doelgerig kerklik betrokke kan raak en dit wat ek in die bedryfswêreld leer ook in die kerkwêreld kan gebruik. Ek is in gesprek met ‘n paar ouens en sal kyk wat die Here laat gebeur. Ons vertrou Hom vir leiding en wysheid.
Hulle sê: in die kerkwêreld praat die mense skaap-taal en in die besigheidswêreld perd-taal. Ek ken nou altwee tale nogal goed. Dalk kan ek die twee wêrelde help om met mekaar te praat?
Met ons kinders gaan dit goed. Marli is gekeur om die 2de helfte van haar Honneurs B.Comm in Amsterdam, Nederland klaar te maak – sy vertrek in Augustus. Hanno vaar uitstekend met sy eerste jaar Ingenieurswese (meestal onderskeidings sover). Ruan, nou graad 10, geniet homself sosiaal, sportgewys en kultureel op soveel maniere en is op pad na ‘n evangelisasie-uitreik in Mosambiek. Aldrie leef in ‘n verhouding met die Here (op verskillende vlakke van geloofsvolwassenheid).
Mariëtte ondersoek moontlikhede om buitenshuis te gaan werk. Die kinders is basies uit die hande en ‘n ekstra inkomste kan baie help. Aan die ander kant is sy ons almal se Persoonlike Assistent (ons is nogal veeleisend), en sy is woes betrokke by die kerk en skool. Ons weet nie mooi hoe ons gaan regkom as haar rol gaan verander nie.
Hiermee groet ek vir eers. Dankie vir jou vriendskap. Mag die Here jou help “to surrender” en “to take charge” soos en wanneer van toepassing! As jy onthou, bid ook vir ons hieroor, en oor ons soeke na sy pad.