Dis lekker om weer uit my hart met jou te kan praat en sommer so spontaan te deel soos dit by my opkom. Ek hoop jy ervaar die seën van die Here daar by jou. In so uitdagende (en interessante) tyd met al sy politieke en ekonomiese skommelinge is dit lekker om te weet Wie ons Anker en sekuriteit is. Kom ons hou in die tyd nie op om vir genade en wysheid vir die land se leiers te bid nie.
Die Kaap is steeds vasgevang in die greep van die winter, papnat en koud – lanklaas het ons so uitgekuier geraak met ‘n seisoen wat net nie wil verby gaan nie! Mens se lewe is terloops ook só: as jy te lank in een seisoen van jou lewe vassteek en nie aanbeweeg wanneer dit tyd is nie, kom daar frustrasies en stagnasies.
Ek word 26 September 46 jaar jonk en as ek so oor my lewe terugkyk, kan ek duidelik sien hoe seisoene gekom en gegaan het. Soms was ek maar te bly vir ‘n seisoen wat klaargemaak het (soos die laaste dag van matriek of die einde van my offisierskursus in die weermag), maar ander kere kon ek lank na ‘n seisoen klaar was, nie aanvaar het dat dit regtig verby is nie. Die probleem met vashou aan wat agter is, is dat jy dan nie al die geleenthede van groei, verskil-maak, genot, geluk en ontwikkeling om jou raaksien nie. Dit is ook só in ons geestelike lewe. Soos Paulus skryf “ek maak my los van wat agter lê, en strek my (soos ‘n atleet) uit na wat voorlê” (Fil 3:14) en die Prediker wat sê “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dis nie uit wysheid dat mens so sê nie” (Pred 7:10). Dus: leef in die nou, stel jouself oop vir wat kan voorlê, en gebruik in die proses al die lesse uit die verlede.
Ek het die laaste tyd opnuut oor “sukses” nagedink. Met tye was Paulus se lewe tekenend van mislukking as mens dit sou meet aan wêreldse standaarde: weerstand, kritiek, tronkstraf en verwerping. En mens kan seker dieselfde van ouens soos Dawid, Josef en selfs Jesus sê. Maar sukses, ware sukses, lê dieper: dis om in elke seisoen saam met die Here te lewe en in sy wil te bly. Dan is jou lewe meer as “suksesvol” – dit word ook betekenisvol en vervullend.
Ons het so twee weke na Angus Buchan gaan luister, welbewus van al die kritiek op hom. Dit was ‘n “wow” en so mooi om sy passie en hart vir die Here te ervaar. Sy boodskap: Wat/Wie is die Bron jou lewe en geluk? Hy het ons sterk aangespoor om tye van saam-wees met God te hê, om sy Woord te hoor en met Hom te praat. Vanuit daardie tye by die Bron van lewe kan mens baie dinamieser met die Here lewe! Dis mos waarna ons almal smag.
Ek tree Saterdag by ‘n kinderkamp van ons gemeente op. Die tema is: kom aan boord van (die Here se) trein. Ek praat oor die belangrikste Persoon op die lewenstrein. Met ‘n dramatjie/illustrasie vra ek die vraag: Hoe is die Here vir jou? Is die Here vir jou soos ‘n regter, liefdevolle ma/pa, bodybuilder, of ‘n heilige (priester)? En natuurlik is Hy alles en baie meer. Maar jou prentjie van hoe jy oor Hom dink en voel, bepaal jou verhouding met Hom. Sondag is dit in die gemeente ‘n “kindergerigte preek”. In lyn met die metafoor van ‘n trein, gaan dit oor “kom aan boord van die gemeente”, en die kinders gaan help met die verwelkoming by die deure, kollekte, koffie-skink, musiekbediening, en selfs vir my met my preek. Ek gaan in die boodskap (Rom 12:3-8) probeer wys dat ons eintlik nie aan boord van ‘n passasierstrein kom nie – daar waar die passasiers sit en wag om by hulle bestemming aan te kom en ander doen die werk nie. Nee, ons as kerk is mos eerder ‘n oorlogskip waar almal diensbaar is met hulle gawes sodat ons as kerk van die Here 24/7 ons werk in die wêreld kan doen.
Met my werk gaan dit goed. ‘n Onlangse ervaring vir my was om ‘n klompie hoërskoolprefekte van ‘n naburige skool deur ‘n proses van leierskap-ontwikkeling te neem. Dit was nogal lekker. Op 31 Oktober en 1 November gee ek by ons gemeente opleiding in berading – dis ‘n afskop om leke beraders (of soos ek verkies om te sê: lewensbegeleiers of pastorale versogers) op te lei. Bid asb vir my.
Ook met die gesin gaan dit goed. Hanno is pas klaar met sy graad 12 rekord-eksamen, en Vrydag is dit matriek-afskeid. Marli voltooi DV haar B.Comm graad binne die volgende 2 maande en het besluit om volgende jaar met ‘n Honneurs aan te gaan. Ruan het pas begin kitaar leer speel en droom om oor ‘n jaar of so in ‘n “band” te speel. En Mariëtte bly in al ons bedrywighede ons persoonlike organiseerder, bestuurder, motiveerder en kop- en hartdokter … en nee, sy huur nie haar dienste uit nie, sy’s ons s’n.