Nuusbrief 3 in 2010

Die einde van 2010 is in sig. En ons weet mos dis nie die Here se wil dat ons die laaste meer as 30 dae wat oor is, net moet uitwag, uit-rus of verduur nie, maar die wedloop met oorgawe en passie sal aanhou hardloop en besig sal bly met dit waarvoor die Here jou roep. Mag jy krag en inspirasie kry om dit te doen – vir Hom! Die groot ding is om in die Here se wil en droom vir jou te “wees” en dan van daaruit te “doen” waartoe Hy jou roep.

Op 14 November het ek by ‘n gemeente uit die boek Rut gepreek oor hoe Naomi (en haar man) die pad byster geraak het deur die (beloofte) land en haar verbondsvolk te verlaat in tyd van eknomiese en politieke druk (hongersnood). Omdat sy buite die Here se wil beweeg, stel sy haarself só bloot aan onnodige gevaar. In Moab is eers haar man dood. Sy bly egter daar en laat – teen die Here se wil – haar twee seuns met Moabitiese (heidense) vrouens trou … en ook haar seuns sterf. Toe keer sy terug na haar land en mense, maar voel leeg, gestraf, bitter en verslae – haar drome verpletter… Maar terug by die Here en sy mense ervaar sy ‘n geestelike ontwaking en onverwagse seëninge. Aan die einde van die storie (Rut 4) hou sy haar kleinseun Obed vas en neem hom as haar eie aan – hy word die oupa van koning Dawid en die voorouer van Koning Jesus. Haar drome het gesterf, ja, maar uiteindelik hou sy die Here se droom vir haar vas – sy word die voor-ouma van Jesus Christus. Hieruit leer ons onder andere:

  • Die Here se genade is groot en sy begeerte is om ons te seën in ‘n verhouding met Hom, selfs al het ons drooggemaak.
  • As ons uit die wil van die Here beweeg (met ons werk, huwelik, gesondheid ens.), is ons op gevaarlike terrein waar die vyand ons kan bykom.
  • Boonop mis ons op daardie “uit-die Here-se-wil-plek” uit op die Here se seën en beskerming. Maar Hy los ons nooit nie.
  • In die Here se wil, is dit nie altyd maanskyn en rose nie (daar is ook resessies en probleme), maar dit lei tot ‘n vrugbare lewe, vrede, vryheid en vreugde. En jou voordeel is: God is dáár op ‘n besondere manier by en met jou.
  • Soms moet iets in onsself en van ons eie drome en ambisies sterf sodat die Here sy droom in ons kan waar maak.

Die vraag is vir ons elkeen: is ek met my werk en lewe, my huwelik en my persoonlike en geestelike lewe op die “plek” waar die Here my wil hê? Ken ek Hom regtig in al my besluitneming óf maak ek op my eie insig staat en verwag ek onrealisties Hy moet maar seën wat ek goeddink?

In die laaste tyd het ek opnuut bewus geraak van die ons vyand se werklikheid. Twee voorbeelde: (1) ‘n Predikant-kollega het gebel en gevra ek moet bid oor ‘n groot kerkvergadering waar beswaar aangeteken word oor hulle gemeente se praktyke – ‘n dokument van 300+ bladsye is teen hulle opgestel. Hulle is deur ‘n mooi proses van Bybelse gemeente-vernuwing en dis asof die vyand nie daarmee gelukkig is nie en dit deur mense teenstaan. (2) ‘n Vriendin wat in Tsad werk, vertel hoe sy in ‘n Christen-vyandige Moslem-omgewing elke dag geestelike oorlog voer en hoe haar menswees vir haar geloof verbaal, emosioneel en geestelik aangeval en ondermyn word.

Die vyand se oer-oue truuks ken ons mos. Hy wil veral twyfel en vrees saai, jou aandag van die Here en jou roeping aftrek, jou bang en onseker of lou laat word, leuens in jou kop inprent, en jou met aanloklike dinge versoek en van die Here wegtrek. Mag jy in als nugter en wakker en standvastig bly (1 Pet 5:8). En onthou: Geen omstandighede of mense kan jou skei van die Here se liefde nie – daarom is ons meer as oorwinnars (Rom 8:37-39). En Ef 6:10-20 leer vir ons van die wapenrusting wat ons kan dra – veral dat jy in Jesus en sy Woord en Waarheid sal leef. Mag ons in die proses elke onwaar gedagte wat by ons opkom, identifiseer “om dit aan Christus gehoorsaam te maak” en so die vyand se vestings of houvasplekke vernietig (2 Kor 10:5) want ‘n groot deel van die geestelike stryd lê tussen ons ore in ons denkprosesse. En mag ons mekaar hierin bystaan met gebede en praktiese hulp.

Vriende mag ons elkeen baie spesiale tye in ons binnekamer beleef en ook die Here 24/7 elke dag oral beleef en verheerlik vanuit ‘n intiem-persoonlike verhouding met Hom. Die Here droom drome oor jou – Hy het groot planne met jou lewe. Beweeg in sy “slipstream” saam met Hom!

Share

2 thoughts on “Nuusbrief 3 in 2010”

  1. More Johann, baie dankie vir die manier waarop jy weer vir my laat onthou, die Here is in beheer van ons lewens, maak nie saak wat ons vir onsself vertel of dink nie. Baie dankie dit is ‘n besonderse manier om seker te maak dat ons geestelik nog altyd moet en kan groei, niemand is vervolmaak nie!

    Mag jou Grace2Grow steeds groei en so andere bereik, ook vir my. Baie dankie

    Groete

    Julia

  2. Thanx so much for this Johann – it seems that we all need so much encouragement this time of year when you just feel so exhausted and dead tired… God has again used you to encourage me and i am blessed.

Comments are closed.